Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
John-Laffnie skarrel om in VSA te kom

Suid-Afrika se John-Laffnie de Jager ondersoek alle moontlikhede om hom by sy Springfield Lasers in Amerika te kan aansluit.

John-Laffnie de Jager met sy span se WTT-trofee verlede jaar. Foto: Verskaf

Dít kom nadat World Team Tennis (WTT) Dinsdag die jawoord gekry het om sy seisoen by ’n oord te mag speel. Die nege spanne sal almal van 12 Julie tot 2 Augustus by The Greenbrier in White Sulphur Springs, Wes-Virginië, tuisgaan.

Die WTT sal die eerste beroepstoernooi in Amerika wees sedert die Covid-19-pandemie die spel tot stilstand gebring het.

De Jager is vanjaar ’n 14de jaar die spankaptein van die Springfield Lasers, wat verlede jaar in Las Vegas vir die tweede seisoen agtereenvolgens met die WTT-kroon weggestap het. Hulle het New York Empire reg aan die einde met die mansdubbelspel in ’n riller van ’n eindstryd met 20-19 verslaan.

De Jager kyk nou na maniere om hom by die span aan te sluit en hoop om dit met ’n permit te kan doen.

“Ek hoor baie van die beroepspelers bel nou om te vra of hulle vir van die spanne kan speel,” sê De Jager, ’n voormalige spankaptein van Suid-Afrika se Davis- en Fedbeker-spanne.

Die Amerikaanse ster Coco Vandeweghe kan dalk vir sy Lasers speel.

Die wenner van vanjaar se Australiese Ope, Sofia Kenin, en Sloane Stephens, Amerikaanse Ope-wenner in 2017, sal ook in die jaarlikse spantoernooi te sien wees en daar was praatjies dat selfs Maria Sharapova, wat uitgetree het, vir die Newport Beach Breakers kan speel.

Kenin en Stephens, albei van Amerika, sal volgens AFP onderskeidelik vir die Philadelphia Freedoms en Chicago Smash speel.

Kenin is tans vierde op die wêreldranglys.

Die Bulgaar Grigor Dimitrov, wat al derde op die mansranglys was, gaan vir die Orange County Breakers speel, terwyl die ervare dubbelspelsterre Bob en Mike Bryan vir die Vegas Rollers beskikbaar is.

Wes-Virginië het van die minste Covid-19-gevalle in Amerika.

Volgens AFP sal daar tot drie kragmetings ’n dag beslis word.

Die oord het ’n buitebaan met sitplek vir 2 500 mense, terwyl daar ook ’n binnenshuise een aangebring sal word.

Ingevolge Wes-Virginië se Covid-19-regulasies mag 20% van die stadion gebruik word vir toeskouers, wat in hierdie geval 500 mense is.

Meer oor:  Koronavirus  |  World Team Tennis  |  Tennis  |  Covid-19  |  Springfield Lasers  |  Wtt  |  John-Laffnie De Jager
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.