Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kan Novak oorleef tot Sondag?

Het Novak Djokovic genoeg woema om Sondag se Franse Ope-eindstryd te haal?

Dit is die vraag wat die volgende paar dae beantwoord sal word nadat Djokovic – ver van sy beste – Woensdagaand tog daarin geslaag het om die halfeindronde te haal.

Novak Djokovic, die eerste gekeurde, moes Woensdagaand diep delf om Pablo Carreno Busta van Spanje in die kwarteindronde van die Franse Ope te klop. Hul wedstryd het meer as drie uur geduur. Foto: Reuters

PCB, oftewel Pablo Carreno Busta, het sy allerbeste gegee in sy kwarteindstryd teen die Serwiër, maar dit was steeds nie genoeg om Djokovic te stuit nie.

Djokovic het meer as 3 uur nodig gehad om die Spanjaard, die 17de gekeurde, tot oorgawe te dwing.

Die telling van 4-6, 6-2, 6-3, 6-4 vertel nie die ware verhaal van die kwaai uitdaging wat die Spanjaard aan die eerste gekeurde gebied het nie.

Die gevaarligte het geflikker nadat Djokovic die eerste stel verloor en hy boonop las gehad het van ’n stywe of beseerde linkerarm en ’n yslike pleister op sy nek gehad het.

Die enkele toeskouers op die Philippe Chartier-baan het beslis nié die 33-jarige Djokovic op sy beste gesien nie, maar sy spel was eindelik steeds goed genoeg om Carreno Busta te klop.

Djokovic was die beter speler op die kritieke oomblikke en sy breekpunt in die vierde stel was genoeg om die oorwinning te bewerkstellig.

Die Serwiër sal homself egter vinnig moet regruk – watter gesondheidsprobleme hy ook al het – want die Griek Stefanos Tsitsipas wag Vrydag op hom in die halfeindronde.

Tsitsipas, die vyfde gekeurde, het Woensdagaand in sy kwarteindronde in skoon stelle met Andrey Rublev afgereken. Die telling was 7-5, 6-2, 6-3 – teen die Rus wat die laaste tyd ’n goeie spelpeil getoon het.

Die volgende paar dae lyk dus glad nie rooskleurig vir Djokovic nie – wat mik na sy 18de Grand Slam-enkelspeltitel. En dan is daar nog Rafael Nadal . . . – Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.