Die Covid-19-pandemie het die immergroen Kim Clijsters nie laat afsien van haar plan om haar tennisloopbaan op 37-jarige ouderdom te laat herleef nie.

Kim Clijsters is steeds vuur en vlam om op 38-jarige ouderdom weer heeltyds beroepstennis te speel. Foto: Getty Images
Dié viermalige Grand Slam-wenner van België het ’n uitdagende tydjie agter die rug – sy moes tydens die inperking, tussendeur al die geoefen, ook haar drie kinders met hul tuisonderrig help. Tog is sy steeds vasberade om weer heeltyds beroepstennis te speel.
“Die feit dat Covid-19 gebeur het beteken nie dat ek nie nou belangstel om meer te speel nie,” het sy aan die vooraand van die World Team Tennis (WTT)-toernooi gesê, wat Sondag by die Greenbrier-oord in Wes-Virginië in die VSA begin.
Clijsters was met die wêreldwye inperkings vir ’n ruk in New Jersey en ook in België, berig Reuters.
Sy speel vir verlede jaar se verslane finalis, New York Empire.
Clijsters is een van vier voormalige Grand Slam-enkelspelkampioene onder die vroue. Die ander is Amerika se Sloane Stephens, Sofia Kenin en Venus Williams, terwyl Eugenie Bouchard van Kanada al ’n Wimbledon-finalis was.
Clijsters se terugkeer ná bykans agt jaar is in Maart deur die pandemie gestuit, pas nadat sy weer begin speel het. Haar laaste amptelike wedstryd was vroeg in Maart teen Brittanje se Johanna Konta, wat haar in die eerste ronde van die Monterrey Ope in Mexiko geklop het. Sy het in Februarie in haar eerste wedstryd van haar terugkeer teen Garbine Muguruza van Spanje in die eerste ronde van die Duty Free-kampioenskap in Dubai vasgeval. Dít was ’n wedstryd waarin sy tien dubbelfoute begaan het, maar ’n baie goeie tweede stel beleef het.
Al die spelers wat aan die WTT-toernooi gaan deelneem, was vooraf in kwarantyn in Amerika en het van Donderdag af by die oord aangekom, waar die aksie tot 2 Augustus sal plaasvind. Tot 500 toeskouers sal in die stadion toegelaat word.
Suid-Afrika se John-Laffnie de Jager se Springfield Lasers maak jag op ’n derde agtereenvolgende titel. Hulle het New York Empire in verlede jaar se eindstryd naelskraap geklop.