Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kevin Anderson seëvier in Hall of Fame-Ope

Kevin Anderson het Sondag die eerste Suid-Afrikaner sedert Neville Godwin in 2001 geword wat die Hall of Fame-Ope wen. Hy het in die eindstryd in Newport, Rhode Island, met 7-6(8), 6-4  met die Amerikaner Jenson Brooksby klaargespeel.

Kevin Anderson het Sondag sy eerste titel sedert 2019 verower. Foto: Getty Images

Dit het Anderson twee uur, 11 minute geneem om sy eerste titel op die ATP-toer te wen sedert hy in 2019 in Pune baas was, maar die 20-jarige Brooksby het seker gemaak dat die besoeker sweet vir sy trofee.

Anderson, wat aan die toernooi-direkteur ’n e-pos gestuur het waarin hy gesmeek het om as promotorskeuse oorweeg te word, het een uur, 17 minute in die eerste stel gestoei voordat hy eindelik in die valbylpot koning gekraai het om die voortou te neem.

“Ek het al baie toernooie in my loopbaan gespeel en dit was so goed soos wat dit kan wees,” het Anderson agterna gesê.

“Dit was vir my baie spesiaal. Ek het die laaste ruk gesukkel met ’n paar beserings, maar om weer hier op die Hall of Fame-Ope te wees, is besonders en dit kon nie ’n beter week vir my gewees het nie.”

Nie veel het die twee finaliste in die eerste stel van mekaar onderskei nie, met albei wat op hul eie afslaan die botoon gevoer het. Elkeen van hulle het geleenthede gehad, maar onder druk vasgebyt om hul teenstander te stuit.

Ten spyte daarvan dat Anderson, 113de op die wêreldranglys, in die meeste aspekte meer slaankrag as Brooksby gehad het, het die Amerikaner goed gevaar. Hy het die Suid-Afrikaner op die agtervoet geplaas deur hom rond te jaag en in die proses te keer dat hy self te veel hoef te verdedig.

Brooksby, wat in Oktober sy 21ste verjaardag vier, het met verskeie sensasionele verbyhoue vir Anderson geklop, iets wat die toeskouers goedgekeur het.

Dit was egter die valbylpot in die eerste stel wat die sleutel tot die stryd was.

Ek het my eerste eindstryd ook verloor, so hou jou kop hoog en hou aan hard werk.

Ten spyte van verskeie voorhandhoue wat Anderson deeglik beproef het, het Brooksby ’n handrughou gemis toe hy sy eerste stelpunt gehad het op 6/5. Anderson het ’n tweede stelpunt gered op 7/8, voordat hy eindelik met ’n uitstekende handrughou van sy eie die stel beklink het.

Dit was die eerste keer deur die loop van die toernooi wat Brooksby die eerste stel verloor het.

Dít het duidelik daartoe gelei dat hy oombliklik sy konsentrasie verloor het in die tweede stel, ’n tydperk wat lank genoeg was vir Anderson om deur te breek in die eerste pot, waarna hy weer baas was met sy eie afslaan om ’n 2-0-voorsprong te neem.

Van daar af het Anderson verder op sy staatmaker-afslaan gesteun om hom tot ’n oorwinning aan te voer.

Hy het 16 kishoue gemoker en al 11 van sy afslaan-potte gewen.

“Een van die dinge wat my so ver gekry het, is om hard te werk. Ek sit nog altyd die ure in. Ek het Jenson waarskynlik meer op die oefenbaan gesien as enigiemand anders hierdie week. Ek het my eerste eindstryd ook verloor, so hou jou kop hoog en hou aan hard werk,” was Anderson se woorde aan sy teenstander.

Anderson was in 2008 laas op Newport se grasbane in aksie toe hy as 22-jarige destyds die 115de plek op die wêreldranglys beklee het.

Brooksby was op sy beurt die tweede jongste finalis in die 45 jaar wat die toernooi al bestaan.

Dit was ’n taai 12 maande vir Anderson, wat verlede jaar ’n knieoperasie ondergaan het en sedertdien verwoed probeer om sy peil te herwin. Hy sal egter hope selfvertroue uit dié oorwinning put. – Sportredaksie, atptour.com

Meer oor:  Newport  |  Kevin Anderson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.