Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kevin buig knie voor Novak Djokovic

Kevin Anderson kon weer nie die sleutel vind om die deur te ontsluit na ’n oorwinning oor Novak Djokovic nie.

Die Suid-Afrikaanse tennisspeler het Vrydag in die kwarteindronde van die Shanghai-meesterstoernooi in China die knie teen die Serwiër gebuig.

Kevin Anderson was in die eerste stel nog op gelyke voet met Novak Djokovic. Foto: Reuters

Djokovic, die tweede gekeurde, het in ’n uur en 44 minute met 7 – 6 (7/1), 6 – 3 geseëvier.

Hy het nou sewe oorwinnings oor Anderson behaal.

Anderson het nog goed bygebly in die eerste stel en het in die 12de pot selfs ’n stelpunt gehad, maar hy kon dit nie benut nie en net daar het sy spel platgeval.

Daardie eerste stel was ’n baie gelykop affêre, met werklik niks wat die spelers geskei het nie. Anderson, die sewende gekeurde, het egter ’n gulde kans deur sy vingers laat glip toe hy nie die breekpunt kon benut met Djokovic wat afgeslaan het om die stel in ’n valbylpot in te dwing nie.

Anderson besef maar alte goed dat jy teen iemand van Djokovic se statuur nie veel kanse kry nie en dié wat wel jou kant toe kom, moet jy benut.

Kevin Anderson het ’n paar skitterende houe teruggespeel wat Novak Djokovic laat strek het. Die Serwiër het in twee stelle gewen. Foto: Getty Images

In die valbylpot is die Suid-Afrikaner oorweldig en kon hy net een punt wen. Sommer al op die eerste punt van die valbylpot het Anderson sy afslaanpunt afgestaan toe hy ’n dubbelhandrughou teen die net vasgeslaan het. Daarna was daar net een speler op die baan met Djokovic wat in ’n japtrap met 3 – 0 voorgeloop het en nie weer teruggekyk het nie.

Met die verlies van die eerste stel het Anderson se peil gesak en het sy konsentrasie geval. Hy het sy tweede afslaanpot prysgegee en Djokovic toegelaat om ’n gerieflike voorsprong van 3 – 0 in die stel op te bou. Daar was net geen pad terug vir die Suid-Afrikaner nie en hy het hom telkens in ’n doodloopstraat vasgeloop.

In die negende pot van die stel waar Djokovic vir die wedstryd afgeslaan het, het Anderson wel twee wedstrydpunte afgeweer, maar op die derde kon hy die terughou net teen die net slaan om die gordyn finaal te laat sak.

Djokovic sal in die halfeindstryd teen Alexander Zverev van Duitsland speel, wat die Brit Kyle Edmund met 6 – 4, 6 – 4 geklop het.

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Shanghai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.