Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kevin: Ek het nooit ophou glo nie

“Dis jou dag. Dis jou dag. Dis jou dag!”

Dít, het Kevin Anderson Woensdag gesê, was die mantra waarmee hy homself aangedryf het terwyl hy die koning van gras, Roger Federer, in die kwarteindronde van Wimbledon stadig maar seker geknak het.

Kevin Anderson. Foto: Getty Images

In die wedstryd van sy lewe – ’n epiese stryd wat 4 uur en 13 minute geduur het en waarin Anderson al drie die laaste stelle moes wen om te seëvier – was dit sy onfeilbare selfvertroue, sy monster-afslane en sy vermoë om iets uit niks te maak nie wat dit toe inderdaad die 32-jarige se dag gemaak het.

Anderson het die eerste Suid-Afrikaner in 35 jaar geword wat Wimbledon se laaste vier kon haal, toe hy van ’n eerste stel waarin hy bloot kanonvoer was, herstel het om Federer se draadjie te knip.

Dit is die eerste keer sedert 2011 dat Federer nie kon wen nadat hy die eerste twee stelle verower het nie. Dit is ook die eerste keer tot nog toe dat hy by Wimbledon ’n wedstrydpunt gehad het, maar nie kon seëvier nie.

En dit is die eerste keer sedert 2016 dat enigiemand Federer op sy grasbaan-koninkryk kon laat menslik lyk.

Ek het net die heeltyd vir myself aanhou sê dit gaan my dag wees en ek het nooit ophou glo nie.
Kevin Anderson

“Ek het my bes gedoen om aan te hou veg en kon gelukkig deur die derde en vierde stelle skraap,” het Anderson ná sy sege in ’n televisieonderhoud gesê. “Teen die einde het ek nie te veel gedink nie. Teen iemand soos Roger kan jy nie twyfel in jou gemoed hê, soos ek in die eerste stel gehad het nie, want dan gaan dit nie goed gaan nie. Ek het net die heeltyd vir myself aanhou sê dit gaan my dag wees en ek het nooit ophou glo nie.

“Ek is verheug om deur te dring (na die halfeindronde). Ek wou myself in hierdie posisie plaas, en nou is ek in ’n posisie om hopelik teen Sondag steeds hier te wees. Om Roger Federer by Wimbledon te klop is iets wat ek gaan onthou en ek sal myself vandag toelaat om dit in te drink. Maar daar wag hopelik nog twee wedstryde, so ek kan nie vir te lank hierby vashaak nie.”

Federer het kat en muis met Anderson gespeel in die eerste stel en dit binne net 26 minute gewen, maar het ná die wedstryd erken hy kon die Suid-Afrikaner daarna nie terug onder sy duim kry nie.

Ek het my kanse gehad om die wedstryd te wen, so ek is baie teleurgesteld dat ek dit laat wegglip het.
Roger Federer

“Ek het aanvanklik wonderlik gevoel, maar soos die wedstryd gevorder het, kon ek hom nie meer verras nie,” het die Switserse maestro op sy amptelike mediakonferensie gesê. “Ek het my kanse gehad om die wedstryd te wen, so ek is baie teleurgesteld dat ek dit laat wegglip het. Maar hy was bestendig en standvastig. Hy het gedoen wat hy moes doen toe hy dit moes doen. Ek het gevoel hy sou regtig goed moes speel om deur te breek op my afslaan, en hy het. Ek voel nou aaklig, maar ek het al voorheen gemiddelde dae soos hierdie gehad en ek sal volgende jaar terug wees.”

* Die wedstryd tussen Federer en Anderson het dalk vir partydige Suid-Afrikaners ’n leeftyd lank gevoel, maar dis nie eens naastenby die langste wedstryd wat Wimbledon al beleef het nie.

Die Amerikaner John Isner en Fransman Nicolas Mahut was in 2010 slaags in ’n eersteronde-stryd wat 11 uur en 5 minute geduur het. Isner het die vyfde stel uiteindelik met 70-68 gewen.

Woensdag se wedstryd is ook nie die langste wat Federer al in Londen beleef het nie. Die Wimbledon-eindstryd van 2008, wat as die beste wedstryd ooit beskou word en waarin Federer in vyf stelle deur Rafael Nadal verslaan is, het 4 uur en 48 minute geduur. In 2009 het dit die Switser 4 uur en 17 minute geneem om Andy Roddick in vyf stelle te klop.

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is. Die Amerikaner John Isner en Fransman Nicolas Mahut was in 2010 slaags in ’n eersteronde-stryd wat 11 uur en 5 minute geduur het, nie 1 uur en 5 minute soos berig is nie.

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Kwarteind  |  Wimbledon  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.