Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kevin: Ek was nie goed genoeg nie
Bomskok! Kevin Anderson het homself Saterdag in ’n hopelose situasie bevind tydens sy wedstryd teen ’n veglustige Novak Djokovic.Foto: Getty Images

Hy is eenvoudig deur ’n beter speler geklop.

Dit was Kevin Anderson se verklaring vir sy nederlaag Saterdagaand teen Novak Djokovic in die halfeindronde van die ATP-reeks se jaareindtoernooi.

Die Serwiër het Anderson met 6-2, 6-2 getrap in ’n wedstryd waarin hy al die reëls gemaak het en die Suid-Afrikaner, in die hemelbesem se woorde “geen ruimte gegee (het) om (my) voete te vind” nie.

Novak Djokovic

Anderson het sy heel eerste afslaanpot van die wedstryd verloor en van daar af ál dieper in ’n vallei van dryfsand ingestrompel. Die Djokovic-afslaan was ondeurdringbaar en die Serwiër se algemene spel deurgaans ’n lus vir die oog.

So moedeloos was Anderson in ’n stadium met die hopeloosheid van sy situasie, dat hy gewaarsku is vir ’n hoorbare vloekwoord – totaal buite karakter vir die groot Suid-Afrikaner, maar op die dag ’n duidelike bewys van sy frustrasie.

Anderson het ná die wedstryd gesê hy het geweet ’n moeilike dag op kantoor wag, en dat hy van die begin af op sy allerbeste moes wees. Laasgenoemde was die sleutel in sy uitstekende seges oor Dominic Thiem en Kei Nishikori – maar teen Djokovic was dit uit die staanspoor so te sê onmoontlik.

“Dit was taai. Ek het geweet Novak gaan sterk uit die blokke wees, want hy speel die hele week al wonderlike tennis. Ek het geweet om hom te klop moes ek gemaklik voel, goed beweeg, ’n hoë standaard met my uitvoering handhaaf en goed afslaan, en niks daarvan het gebeur nie. Hy gee jou geen ruimte om jou voete te vind nie en is die hele tyd aangeskakel. Dis waarom hy een van die heel beste spelers nóg is,” het Anderson gesê.

Hy gee jou geen ruimte om jou voete te vind nie en is die hele tyd aangeskakel. Dis waarom hy een van die heel beste spelers nóg is.
Kevin Anderson

Djokovic was vanselfsprekend in die wolke om die eindstryd van die jaareindtoernooi te haal, aan die einde van ’n seisoen wat weens ’n elmboogbesering met min lig in die tonnel begin het, maar nou een van sy beste nóg is.

Net vier maande gelede was hy buite die top-20 op die wêreldranglys. Nou is hy daarvan verseker dat hy die jaar as nommer een sal afsluit.

“Ek dink dit was die beste wedstryd wat ek die hele week gespeel het,” het Djokovic Saterdag gesê ná ’n kragmeting waarin hy net 14 ongedwonge foute gemaak het.

Ek het probeer om soveel punte as moontlik op sy tweede afslaan te wen, en dit het goed gewerk.
Novak Djokovic

“Kevin het hierdie week baie goeie tennis gespeel. Hy het sy afslaan (Saterdag) in sy eerste pot verloor, wat groot was, want hy vertrou so baie daarop. Ek het probeer om soveel punte as moontlik op sy tweede afslaan te wen, en dit het goed gewerk.”

Djokovic staan nou op die drempel van geskiedenis. Hy sal die 21-jarige Alexander Zverev in Sondag se eindstryd pak, nadat Zverev met Roger Federer klaargespeel het. Die Serwiër het Zverev net Woensdag in die groepfase ’n tennisles gegee, en klop hy hom weer, sal hy op 31 die oudste wenner nóg van die jaareindtoernooi word.

* Die wedstryd tussen Zverev en Federer het vroeër Saterdag in omstredenheid geëindig, met die pro-Federer-skare wat Zverev ná sy sege uitgejou het.

Alexander Zverev. Foto: Getty Images

Die jong Duitser was baas met 7-5, 7-6 (5) in ’n wedstryd waarin sy afslaan Federer dikwels platpoot gelaat het en hy die Switser vir groot dele oorheers het met verbeeldingryke, dapper tennis.

Die uitjouers was woedend omdat Zverev tydens die tweede stel se valbylpot, met die telling 4-3 in Federer se guns, ’n punt in die middel van ’n sarsie gestop het omdat ’n baljoggie agter Federer ’n bal laat val en dit tot in die agterbaan gerol het.

Volgens die reëls moet ’n punt oorgespeel word as daar ’n tweede bal in die baan beland, maar die Federer-ondersteuners was steeds nie geneë daarmee nie.

Zverev het in sy onderhoud ná die wedstryd oor en oor om verskoning gevra, maar die uitjouery was so erg dat die onderhoudvoerder aan die skare gesê het hulle moet meer respek vir die Duitser hê, want hy het die reëls gevolg.

Volgens Zverev het hy ook ná die laaste punt by die net vir die Switser om verskoning gevra. “Hy het gesê: ‘Hoor hier, jy hoef nie eens jammer te sê nie’,” het Zverev vertel.

Meer oor:  Roger Federer  |  Kevin Anderson  |  Novak Djokovic  |  Londen  |  Halfeind  |  Atp-Jaareindtoernooi  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.