Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
‘Respekteer Aussie-stryd teen virus '

Die Suid-Afrikaner Kevin Anderson het ’n beroep gedoen op sy mede-tennisspelers in die Australiese Ope om meer respek vir die plaaslike gemeenskap se stryd teen die Covid-19-pandemie te betoon.

Dit kom nadat daar die afgelope week ’n rits klagtes oor die kwarantyn-toestande in Melbourne was.

Kevin Anderson sê Australiërs moes baie opoffer om die punt te bereik waar ’n Grand Slam-toernooi in hul land aangebied kan word Foto: Getty Images

Soveel as 72 spelers mag nie hul hotelkamers vir 14 dae verlaat voordat die jaar se eerste Grand Slam-toernooi op 8 Februarie begin nie, omdat daar passasiers op hul drie huurvlugte was wat met hul aankoms in Melbourne positief vir die koronavirus getoets is.

Sommige spelers het oor die streng gesondheidsmaatreëls gekla, ander oor die gehalte van die kos en party selfs oor muise in hul hotelkamers. Dié klagtes het die Australiërs warm onder die kraag gehad, want baie van hul landgenote is steeds weens die streng reisbeperkings in dié land oorsee gestrand.

Novak Djokovic is veral vir kritiek uitgesonder omdat hy ’n brief aan die uitvoerende hoof van Tennis Australië, Craig Tiley, gestuur het waarin hy onder meer vra dat spelers vir hul kwarantyn-tydperk na private huise met tennisbane geskuif word.

Djokovic het egter teruggekap en Woensdag gesê sy goeie bedoelings is verdraai en word as selfsugtig en ondankbaar uitgebeeld.

Die Spanjaard Roberto Bautista Agut en die Franse speler Alizé Cornet het reeds verskoning gevra nadat hulle vroeër oor hul omstandighede gekla het.

“Ons almal moet regtig respek hê vir waardeur Australiërs gegaan het om te kom waar hulle nou is. Op pad na die tennisbane sien jy hoe inwoners sonder maskers met mekaar gesels en ek weet hoeveel opofferings hulle moes maak om dít weer moontlik te kon maak,” het Anderson met verwysing na verskeie streng en lang inperkings in Melbourne gesê.

Die 34-jarige Suid-Afrikaner, wat verlede jaar die rol as hoof van die ATP se Spelersraad oorgeneem het nadat Djokovic ’n splintergroep begin het, het gesê die negatiewe uitlatings deur verskeie spelers is aan hul frustrasie te wyte – veral omdat baie van hul mede-spelers vyf uur per dag buite hul kamers mag deurbring om hulle vir die Australiese Ope voor te berei.

“Wat die spelers betref, hoop ek hulle kry begrip vir die situasie waarin ons ons bevind, en terselfdertyd hoop ek dat die plaaslike gemeenskap die spelers sal vergewe vir van die dinge wat hulle kwytgeraak het,” die voormalige finalis in die Amerikaanse Ope en Wimbledon gesê.

Australië het die pandemie sover goed bestuur deur middel van geteikende inperkings in gebiede waar uitbrekings van die virus voorgekom het en deur almal op te spoor wat in kontak was met mense wat positief vir die virus getoets is.

Victoria, die staat waarin die Australiese Ope aangebied word, het Donderdag sy 15de agtereenvolgende dag sonder nuwe plaaslike infeksies gehad.

Maria Sakkari, 22ste op die vroue se wêreldranglys, is een van die spelers wat vir twee weke nie haar hotelkamer mag verlaat nie en hoewel dié Griek sê sy mis die vars lug, waardeer sy dit dat sy toegelaat was om na Australië te reis.

“Ek is so dankbaar dat julle ons toegelaat het om jul land binne te kom, terwyl julle nie enige ander buitelandse besoekers toelaat nie,” het sy in ’n onderhoud met ’n plaaslike radiostasie in Melbourne gesê. – Reuters

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Australiese Ope  |  Tennis  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.