Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kevin klop Ilya in marathon-stryd

Ná ’n 2019 wat die geboorte van sy eersteling ingesluit het, asook byna meer weke op die krukkelys as op die tennisbaan, lyk Kevin Anderson se woordeskat sekerlik ’n bietjie anders as 12 maande gelede.

Maar een ding het nie verander nie: die woord “opgee” is steeds nie in dié hemelbesem se woordeskat nie.

Kevin Anderson moes Dinsdag baie diep delf om klaar te speel met die kwalifiseerder Ilya Ivashka. Foto: AP

Die 33-jarige Suid-Afrikaner het Dinsdag teen Ilya Ivashka, ’n kwalifiseerder van Belarus, met een van die merkwaardigste regrukpogings van sy loopbaan vorendag gekom om die eerste ronde van die Australiese Ope te oorleef. Die telling van 6-4, 2-6, 4-6, 6-4, 7-6 (10/8) en die tydsduur van 3 uur en 54 minute weerspieël dat dit ’n reusestryd was – maar dui nie werklik aan hoe diep in die knyp die Suid-Afrikaner in ’n stadium was nie.

Nadat hy reeds in die derde pot deurgebreek het en die eerste stel gewen het, is Anderson in die tweede en derde stelle deur Ivashka ore aangesit – en in die eerste helfte van die vierde verder gekasty.

Hy was op 1-4 in dié stel stewig met die rug teen die muur en in die paviljoen het sy bestuurspan waarskynlik al begin praat oor reisplanne. Maar jy haal nie twee Grand Slam-eindstryde as jy hou van boedel oorgee nie – en Anderson het inderdaad geweier om te gaan lê.

Die Suid-Afrikaner het sy ritme teruggevind en weer die kodes in Ivashka se afslaan ontsyfer vir sy eerste deurbraak in 31 potte – en toe ook albei Ivashka se volgende afslaanpotte oorheers. Anderson het sewe potte in ’n ry gewen om die Oos-Europeër terug op die agtervoet te dwing en vir ’n ruk het dit gevoel asof hy nie weer sou terugkyk nie.

Maar die jong Ivashka was self te hardekwas om net te gaan lê . . .

Hy het ’n laaste driekwartier propvol drama verseker toe hy in die agtste pot van die laaste stel teruggebreek en van daar af sterk gestaan het tot in die valbylstryd. Dié kon Anderson uiteindelik met 10-8 wen – naelskraaps, maar goed genoeg vir ’n sege.

Die wedstryd was ’n uitstekende vertoonvenster vir Anderson se veggees, maar hy sal goed weet hy sal homself moet regruk voordat hy die 29ste gekeurde Amerikaner Taylor Fritz in die tweede ronde pak. Hy het 67 ongedwonge foute gehad, teenoor 48 wenhoue en minder as die helfte van die punte op sy tweede afslaan gewen.

Suid-Afrikaners kan nietemin ’n sug van verligting slaak oor sy uitmuntende terugvegpoging aangesien dit in ’n stadium gelyk het asof Dinsdag die dag sou wees waarin albei Suid-Afrika se enkelspelverteenwoordigers die aftog blaas.

Vroeër die dag het die 22-jarige Lloyd Harris hom teen die 14de gekeurde Diego Schwartzman vasgeloop, wat met 6-4, 6-2, 6-2 baas was.

Harris het ’n aks meer wenhoue as sy Argentynse teenstander geslaan (23 teenoor 20), maar ook ’n yslike 47 ongedwonge foute ingeryg.

Nietemin sal die jongeling Australië met ’n huppel in die stap verlaat, ná drie weke waarin hy ’n magdom lesse Doer Onder geleer het en aan homself gewys het waartoe hy in staat is.

Sy vroeë vertrek by die Australiese Ope volg net drie dae nadat hy in die eerste ATP-eindstryd van sy loopbaan gespeel het en twee weke nadat hy deel was van ’n Suid-Afrikaanse span wat so byna vir die uitspeelrondes van die ATP-beker gekwalifiseer het.

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Australiese Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.