Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kevin: Van kanonvoer tot kanonpoot

Terwyl Kevin Anderson die eerste stel van sy Wimbledon-kwarteindstryd teen Roger Federer Woensdag binne net 26 minute verloor het, sou jy ver gesoek het na iemand wat geglo het hy kan as oorwinnaar van die baan stap.

Moeg, maar majestueus . . . Kevin Anderson lig sy hande nadat hy Roger Federer se stert in die kwarteindronde van Wimbledon Woensdag geknoop het.Foto: AP

Sy tweede afslaan was ’n ramp. Sy terughoue was power en sy kreatiwiteit min. Hier, het ’n mens gedink, kom ’n vernederende drag slae.

Gelukkig het Anderson hom nie deur sulke gedagtes laat lamlê nie. In die ouderdom van 32, ’n dekade ná sy Wimbledon-buiging, met ’n Amerikaanse Ope-eindstryd op sy CV en ’n passie vir tennis wat hom deur ’n horde beserings en ander terugslae laat vasbyt het, is die woorde “dis verby” nie meer in dié Suid-Afrikaner se woordeskat nie.

En dit was inderdaad ver van verby . . . Byna vier uur later het Anderson die eerste Suid-Afrikaner sedert Kevin Curren in 1983 geword wat die laaste vier van Wimbledon kon haal. Hy het die eerste speler sedert 2016 geword wat ’n stel teen Federer kon wen – en toe ’n tweede, en toe ’n derde.

Sy wentelling was 2-6, 6-7 (5/7), 7-5, 6-4, 13-11.

Soos die telling voorstel, was dit ’n sege wat bloedsweet gekos het. Ja, Federer is 36 (volgende maand 37), maar moenie daaruit aflei dat hy enigsins stadiger, dommer of meer onseker as ’n jaar gelede was nie. Hy het steeds uitsonderlike tennis gespeel – hy het waarskynlik net nie verwag dat Anderson sou antwoord met soortgelyke uitnemendheid nie.

Ná ’n eerste stel wat menige ander speler sou breek, het Anderson ’n paar minute die baan verlaat en homself gaan herinner dat hy nie net oor hom sal laat loop nie. Dit was reeds Maandag in sy vierderonde-stryd teen Gael Monfils duidelik dat vasbyt deesdae Anderson se middelnaam is, en dit was weer die towertonikum wat sake teen Federer omgekeer het.

In die tweede stel het Anderson al drie die eerste potte gewen voordat Federer begin terugveg het. In die valbyl moes die Switser weer van agter kom om te wen.

In die derde stel het ’n mens aanvanklik gevoel die voorspelbare draaiboek sal gevolg word, en Federer het inderdaad in die tiende pot ’n wedstrydpunt bewerkstellig. Maar nie net het hy dit verspeel nie, hy het sy eie afslaanpot enkele minute later verloor, en in die pot daarna sy stel.

Roger Federer reageer in sy marathonstryd teen Kevin Anderson. Foto: AP

Die vierde stel het net meer as ’n halfuur geduur en Federer was ’n blote byspeler daarin. Anderson se afslaan, die gevaarlikste wapen in sy arsenaal, het soos ’n droom gewerk, en hy het net vier keer nodig gehad om ’n tweede afslaan af te stuur. Hy het meer breekpunte bewerkstellig, meer wenhoue geslaan en minder foute gemaak. Hy was aan die stuur van sake.

Die merkwaardigste aspek van sy vertoning was egter die innerlike kalmte wat hy uitgestraal het – veral in ’n vyfde stel wat enige kant toe kon gaan. Hy het in die 24 potte wat dit geduur het nooit getwyfel in homself nie, en sy lyftaal het dit weerspieël.

Terwyl Federer se droom van ’n negende Wimbledon-kroon nou vir eers verydel is, storm Anderson voort. Vrydag wag ’n halfeindronde teen John Isner, teen wie Anderson in 2012 laas gewen het. As hy speel soos Woensdag teen Federer, hoef Anderson egter nie die Amerikaner te vrees nie, al het hy 8 van hul 11 vorige kragmetings verloor. Wel . . . as hy aanhou speel soos teen Federer, kan Anderson selfs Sondag die kroon dra.

’n Te groot droom? Gaan sê dit nou vir Anderson – nóú, nadat hy die slagtande van grasbaantennis se grootste hond getrek het.

* Net om die lekker vir Suid-Afrikaanse tennisliefhebbers verder uit te rek, sal Raven Klaasen Donderdag in die halfeindronde van die mansdubbelspel in aksie wees.

Klaasen en sy Nieu-Seelandse speelmaat Michael Venus het Dinsdagaand op die hoofbaan ook ’n vyfstel-marathon oorleef om die vyfde gekeurdes, Jamie Murray en Bruno Soares, in die kwarteindronde te verslaan.

Nie sedert Curren in 1983 die halfeindronde van die enkel- én dubbelspel gehaal het, het Suid-Afrika so laat in die toernooi nog verteenwoordiging in albei kompetisies gehad nie.

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Wimbledon  |  Roger Federer  |  Kwarteindronde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.