Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Krejcikova deur na Franse Ope-eindstryd

Haar naam is dalk nie een wat baie tenniskykers sal herken – of kan uitspreek – nie, maar moenie vir een oomblik dink Barbora Krejcikova se plek in vanjaar se Franse Ope-eindstryd is onverdiend nie.

Inteendeel. Dié 25-jarige Tsjeg het sonder twyfel genoeg ys in haar are en pyle in haar arsenaal om haar naam Saterdag op die Suzanne Lenglen-trofee ingeëts te sien.

Barbora Krejcikova het haar senuwees Donderdag wonderlik beheer om haar plek in die eindstryd van die Franse Ope te bespreek. Foto: Reuters

Soveel was Donderdagaand glashelder, terwyl Krejcikova Lasarus gespeel het om die drome van Griekeland se 17de gekeurde Maria Sakkari te verbrysel.

Krejcikova, ’n tweemalige Grand Slam-dubbelskampioen, het ’n hoogs dramatiese kragmeting ná 3 uur en 18 minute met 7-5, 4-6, 9-7 gewen, ná sy op 5-3 en op haar eie afslaan ’n wedstrydpunt moes afweer, haar eie senuwees beveg het deur in die volgende pot op Sakkari se afslaan deur te breek – en toe vir meer as 20 minute kon vasklou op ’n wipwarit soos min.

Krejcikova is ongekeurd, maar het ’n arsenaal van houe om op trots te wees, en het Sakkari telkens teruggeruk aarde toe met die perfekte uitvoering van een daarvan. Sowel sy as Sakkari het hul alles gegee vir die duur van die wedstryd, en dit sou onregverdig wees om te sê een het ’n sege meer as die ander verdien. Daarvoor was die vlak wat albei gehandhaaf het, heeltemal te hoog.

Dat hulle ná drie ure steeds veggees in die tenk oorgehad het, is reeds buitengewoon – maar in die laaste 20 minute het albei nie net harder geveg as voor dit nie, maar ook wonderlike houe gespeel. Die pendulum het verwoed van die een na die ander geswaai, en dit was die verskil in krag tussen die duo se ore wat uiteindelik die uitslag bepaal het.

Krejcikova spog egter met ’n uitstekende rekord in driestel-wedstryde, en het voor Donderdag net een van haar nege 2021-wedstryde wat so ver gegaan het, verloor. Waarom was duidelik terwyl sy in die mees dramatiese oomblikke van die wedstryd koelkop kon bly.

Geen oomblik was meer dramaties nie as toe Sakkari die bal op 8-7, 40-30 in Krejcikova se guns oor die agterlyn geslaan het, net om ’n tweede lewe deur die skeidsregter gegun te word nie. Krejcikova het sover gegaan om haar hande in oorwinning in die lug te gooi, net vir die (foutiewe) beslissing om op haar parade te reën.

Sy moes daarna vir ses punte aanhou veg voor sy uiteindelik regtig kon feesvier.

“Ek wou nog altyd in ’n wedstryd soos hierdie gespeel het – so ’n uitdagende wedstryd waarin albei kanse gehad het en albei so goed gespeel het, maar net een kon wen,” het ’n emosionele Krejcikova agterna gesê.

“Ek bedoel, selfs as ek vandag verloor het, sou ek net regtig trots gewees het op myself omdat ek aanhou veg het. En ek dink dis die belangrikste ding van alles – hier en in die lewe.”

Krejcikova is ’n voormalige protégé van die driemalige Franse Ope-kampioen Jana Novotna, wat in 2017 oorlede is, maar steeds ’n spesiale plek in haar landgenoot se hart het.

“Ek mis haar regtig, en ek wil haar net daarvoor bedank dat sy steeds hier rond is,” het Krejcikova van Novotna gesê. “Dis vir my regtig belangrik om dit te sê.”

Die Tsjeg het nou net een hekkie om te oorkom in die enkelspel-kompetisie, in die vorm van die Rus Anastasia Pavlyuchenkova.

Anastasia Pavlyuchenkova hoop om Saterdag Rusland se eerste Franse Ope-kampioen in 13 jaar te word. Foto: Getty Images

Die Rus het self al meer sukses in die dubbelspel gehad, en bevind haar soos Krejcikova vir die eerste keer in die enkelspel-eindstryd van ’n Slam.

Sy is daar nadat sy die Sloween Tamara Zidansek vroeër Donderdag met 7-5, 6-3 geklop het.

Pavlyuchenkova het op die eerste dag van die maand laas ’n blaaskans gehad, aangesien sy en haar dubbelsmaat, Elena Rybakina (met wie sy ook in die enkelspel-kwarteindronde klaargespeel het), al die pad tot die kwarteind van die dubbelspel gevorder het.

Die duo het Woensdag verloor, maar die tol wat hul sukses op Pavlyuchenkova geëis het, het teen die middel van Donderdag se tweede stel begin wys. Haar energievlakke was merkbaar laer, maar gelukkig vir haar kon Zidansek geen ritme kry nie.

Pavlyuchenkova verdien lof daarvoor dat sy die bal heeltyd op die Sloween se rughand probeer hou het, aangesien Zidansek met ’n bitter gevaarlike voorarmhou spog. Gestroop van daardie wapen het sy gesukkel om haar stempel af te druk, en minder as die helfte van die punte op haar eie afslaan gewen.

UITSLAE
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.