Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
‘Koning’ Harris trap duwweltjie raak
Lloyd Harris Foto: Getty Images

Die pad na die troon is nooit maklik nie – vra maar vir Lloyd Harris, Suid-Afrika se jong tennisster.

Harris het gister in die halfeindstryd van die Brest Challenger-toernooi in Frankryk met 6-4, 5-7, 3-6 teen die agtste gekeurde Rus, Evgeny Donskoy, verloor.

Die 22-jarige Harris, wat in Brest sesde gekeur was, beleef ’n ongelooflike jaar op die wêreld se tennisbane – iets wat sy selfvertroue die hoogte laat inskiet het.

Soos die slim mense jou sal vertel, is selfvertroue iets wat uit sukses voortspruit en Harris het onlangs opnuut besef dat hy saam met die groot honde kan blaf. ’n Maand gelede het Harris die eerste keer in sy kort loopbaan die halfeindronde van ’n ATP-toernooi, by die Chengdu Ope in China, gehaal.

“Ek weet nou ek kan verder gaan en dit gee my selfvertroue ’n hupstoot vir die Grand Slams in die toekoms,” het Harris aan Sport24 gesê.

“Oor die algemeen het ek sterker geword en het meer selfvertroue in wedstryde. Die feit dat ek op ’n hoër vlak speel, gee my meer selfvertroue. Ek glo regtig dat ek teen die voorste ouens kan meeding.”

Hy bevind hom tans in die 106ste plek op die wêreldranglys en het hom ook al vanjaar vir die eerste keer onder die voorste 100 spelers bevind. Hy het by al vier Grand Slams vanjaar die hoofloting gehaal.

Op die ouderdom wat die meeste van sy tydgenote hul voete in die werkplek begin vind, maak hy meer as slegs sy stem dik. Hy weet ook dat Rome nie in ’n dag gebou is nie, en dat geduld die wagwoord is. En dat daar spoedhobbels soos gister in Frankryk gaan wees.

“Die volgende ding is om verder in ATP-toernooie te vorder, want wanneer jy een van daardie wen, verbeter jou plek op die ranglys.

“Ek het steeds baie tyd – ek hoef net te kyk na Roger Federer, wat op 38-jarige ouderdom steeds sy goeie spelpeil handhaaf, om inspirasie te kry.

“Ek het steeds baie jare voor my en op hierdie oomblik fokus ons net op die proses.”

Toe hy verlede maand vir Suid-Afrika se Davisbeker-span teen Bulgarye gespeel het, het sy spanmaats hom “die koning” gedoop.

Hopelik vind hy die pad tussen al die duwweltjies deur na daardie troon. – Marnus Kok en Sport24

Meer oor:  Lloyd Harris  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.