Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Korona-krisis trek toernooie in Potch plat

Die bedreiging van die koronavirus het ook sy tentakels ingeslaan in ’n internasionale sportgebeurtenis in Suid-Afrika deurdat ’n mans- en vrouetennistoernooi in Potchefstroom halfpad summier beëindig is.

Richard Glover, uitvoerende hoof van TSA. Foto: Gallo Images

Die Vereniging van Beroepstennisspelers (ATP-reeks) en ook die Internasionale Tennisfederasie (ITF) het aangekondig dat al hul toernooie vir ses weke opgehef word. Dit is uit vrees vir die verspreiding van die virus en die gesondheidskrisis wat dit teweeg kan bring.

Die twee toernooie in Potchefstroom – die Potch-ope vir mans en die Ilana Kloss-toernooi vir vroue – was reeds drie dae aan die gang.

Die eindstryde sou Sondag beslis word.

Al is dit ’n geweldige teleurstelling vir Tennis Suid-Afrika (TSA) dat die grootste internasionale toernooie wat in jare in die land gehou word summier gekanselleer is, steun hy die besluit.

“Ons besef die spelers, borge en toeskouers asook almal wat verder daarby betrokke was, is teleurgesteld maar ons meen dit is die regte besluit in hierdie situasie,” sê Richard Glover, die uitvoerende hoof van TSA.

“Die menslike element betrokke in hierdie situasie moet voorkeur geniet en weens die wyse waarop die virus ontwikkel, is besluit dat die oorsese spelers dadelik huis toe kan gaan,” sê hy.

Spelers van meer as 20 lande, veral uit Europa, het aan hierdie toernooie deelgeneem.

Spelers wat in Potchefstroom deelgeneem het, sal wêreldranglyspunte asook prysgeld verdien uit die rondes wat hulle bereik het.

Die nasionale junior toernooi word binne die volgende paar weke in Bloemfontein beslis en daar is ook ander junior toernooie ter sprake. Volgens TSA sal ’n besluit daaroor nader aan die tyd geneem word. Die plan in hierdie stadium is wel om met daardie toernooie voort te gaan.

“Ons het ’n risiko-komitee wat hierdie komplekse situasie op ’n daaglikse basis monitor. Ons het ook gesondheids-maatreëls ingestel by van die plekke waar toernooie plaaslik in die land gespeel word om die gesondheid van almal betrokke te waarborg,” sê Glover.

“Ons sal die tennispubliek weekliks op die hoogte hou van die situasie en wat die status van die toernooie sal wees.”

Meer oor:  Itf  |  Koronavirus  |  Tennis  |  Wta  |  Atp  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.