Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Krejcikova buit Franse Ope-kroon

Die Tsjeg Barbora Krejcikova is die nuwe Franse Ope-kampioen, nadat sy Saterdag sterk gestaan het om 'n wipplank-eindstryd teen Rusland se Anastasia Pavlyuchenkova te wen.

Krejcikova, 'n protege van oorlede Jana Novotna en tot baie onlangs meer van 'n dubbelspel-spesialis, se naam is op Roland Garros se Suzanne Lenglen-trofee ingeëts toe sy na 1 uur en 58 minute met 6-1, 2-6, 6-4 geseëvier het.

Barbora Krejcikova pronk met die Franse ope se Suzanne Lenglen-trofee na haar driestel-sege in die toernooi se eindstryd. Foto: Getty Images

Die eindstryd was ’n vreemde affêre, met albei spelers wat in die eerste 70 minute sowel vuurwarm as yskoud geblaas het.

Krecjikova het die eerste stel binne net 32 minute gewen, ná sy die eerste pot (op haar eie afslaan) verloor het, maar die volgende ses potte ingepalm het.

Die Tsjeg het veral sukses behaal wanneer sy Pavlyuchenkova net toe getrek het, met die Rus wat in die stel net een punt daar kon wen. Krejcikova, daarenteen, het vier keer van die net weggestap met ’n punt in die sakkie.

Die tweede stel het begin soos die eerste, met ’n pot-sukses vir Pavlyuchenkova. Dit was die eerste keer in die wedstryd wat sy ’n afslaanpot kon wen, ná 35 minute van aksie, en ’n baie welkome hupstoot.

Daarna het die Rus al die reëls begin maak. Waar sy in die eerste stel net ’n kwart van die punte op haar eie afslaan kon wen, het sy in die tweede net agt verloor – én 12 op Krejcikova se eerste afslaan ingepalm.

So het die twee spelers teen mekaar opgeweeg.
So het die twee spelers teen mekaar opgeweeg.

Die Tsjeg was ’n skaduwee van haar voorheen oorheersende self, en het die een fout ná die ander ingeryg.

Die tweede stel is ná sewe potte onderbreek toe Pavlyuchenkova behandeling aan haar linkerdy gekry het, maar met die terugkeer het sy deurgebreek om die stel beklink én die eerste pot van die derde stel gewen.

Die wiele het daarna gedreig om af te kom, toe die Rus albei die volgende potte verloor het, maar ’n deurbraak in die vierde – ná ’n paar asemrowende voorarmhoue – het haar stert terug in die lug gekry.Terwyl Krejcikova al senuweeagtiger aan die anderkant van die net begin lyk het, het Pavlyuchenkova vuiste gebal en rond gehuppel tussen punte.

En tog was hierdie nie ’n wedstryd waarin een van die twee spelers ooit vir baie lank momentum kon behou nie. Krejcikova het in die sewende pot weer haar kop gelig en met ’n rits uitstekende terughoue deurgebreek, sonder om Pavlyuchenkova ’n punt te gun. In die pot daarna het die twee spelers mekaar lustig rondgejaag, maar die Tsjeg kon die deurbraak nietemin konsolideer. En toe was al die druk op Pavlyuchenkova om haar afslaan te behou en die stryd te laat voortduur.

Dít kon die Rus doen, nadat sy twee wedstrydpunte afgeweer het en die groot druk wat Krejcikova met ’n afwisseling van mooi vlughoue en priemende voorarmhoue op haar gelaai het, kon absorbeer.

Maar in die pot daarna het Pavlyuchenkova eenvoudig te min vuurkrag gehad om haar Tsjeggiese teenstander verder van die deur te hou. Krejcikova het haarself wel teruggerem toe sy haar derde wedstrydpunt van die kragmeting met ’n dubbelfout verspeel het, maar met die vierde het sy geen fout gemaak nie, en ’n titel waaroor sy net weke terug nie durf droom het nie, haar eie gemaak.

Barbora Krejcikova (regs) en die naaswenner Anastasia Pavlyuchenkova lyk ingenome met hulself na albei se eerste Grand Slam-eindstryd. Foto: Getty Images

Die 25-jarige Tsjeg se grootste sukses was tot dusver in die dubbelspel, maar die ambisie waaraan sy drie jaar gelede begin werk het, om in die enkelspel ’n ster te word, het nou waar geword.

Boonop kan sy Sondag gróót geskiedenis maak, as sy en haar dubbelsmaat Katerina Siniakova in die dubbelspel-eindstryd met Iga Swiatek en Bethanie Mattek-Sands kan afreken. Krecjikova sal dan die eerste vrou sedert Mary Pierce in 2000 word wat sowel die enkel- as dubbelspeltitels by dieselfde Franse Ope wen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.