Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Krejcikova ook baas in dubbelspel

Verlede Maandag was Barbora Krejcikova so senuweeagtig voor haar vierderonde-wedstryd in die Franse Ope-enkelspel dat sy nie op die baan wou stap nie. Sy het in trane uitgebars en haarself in ’n vertrek gaan toesluit, waaruit haar sielkundige haar moes práát.

“Ek weet nie wat gebeur het nie, maar ek het wakker geword en verskriklik gevoel, baie gestres,” het die 25-jarige Tsjeg later aan Reuters vertel.

Barbora Krejcikova (regs) en Katerina Siniakova bokspring verheug ná hulle Sondag die Franse Ope se vrouedubbelspel-kroon gewen het. Dis hul derde Slam-sukses as dubbelspaar. Foto: Getty Images

“Ek het myself in die fisioterapeut se kamer afgesonder waar my sielkundige met my kom praat het. Ek het net gesit en huil, en sy het gesê: ‘Wat jy nou voel is iets wat jy kan oorkom, en dit gaan ’n reuse-oorwinning wees as jy dit doen. Of jy op die baan wen of verloor, sal nie saak maak nie, want jy sou reeds ’n persoonlike sege gehad het.’ ”

Krejcikova skuld haar sielkundige ’n persentasie van die hoop euro’s waarmee sy die Franse hoofstad nou sal verlaat, want sy het sedertdien nog nie ophou wen nie. Nie in haar persoonlike lewe nie, en nie op die baan nie.

Vyf dae ná sy daardie verlammende angs te bowe moes kom, is Krejcikova Saterdag gekroon as Tsjeggië se eerste Franse Ope-vrouekampioen sedert 1981, danksy ’n sege van 6-1, 2-6, 6-4 oor die Rus Anastasia Pavlyuchenkova.

En toe vermag sy boonop Sondag iets wat geen ander vrou in 21 jaar kon doen nie, toe sy en haar landgenoot Katerina Siniakova die eindstryd van die vroue-dubbelspel teen Iga Swiatek en Bethanie Mattek-Sands met 6-4, 6-2 gewen het.

Krejcikova het daarmee die eerste vrou sedert Mary Pierce in 2000 geword wat sowel enkel- as dubbelspel-glorie by dieselfde Franse Ope kon proe.

Die merkwaardigste ding van haar sukses is dat Krejcikova net twee weke terug haar heel eerste WTA-enkelspeltitel kon wen, en ’n naam gehad het wat nie aan deeltydse tenniskykers bekend was nie – al het sy groot sukses in dubbelstennis gehad.

Die 25-jarige Tsjeg is nou ’n sewemalige Grand Slam-kampioen, met haar twee nuwe Franse Ope-titels gevoeg by twee vroeëre dubbelstitels en drie gemengde dubbelskrone op die grootste verhoog.

Dit plaas haar in ’n baie eksklusiewe klub saam met onder andere die Williams-susters, Venus en Serena. Saam met hulle en die Australiër Samantha Stosur is Krejcikova een van net vier aktiewe spelers wat al Grand Slam-sukses in die enkelspel, dubbelspel en gemengde dubbelspel gehad het.

Krejcikova het haar enkelspel-sege Saterdag opgedraaan haar landgenoot Jana Novotna, wat in 2017 op 49-jarige ouderdom oorlede is ná ’n lang stryd teen kanker.

Novotna, ’n voormalige Wimbledon-kampioen wat altesaam 24 beroepstitels gewen het, het Krejcikova begin afrig toe sy 18 was. Die jonger vrou was 21 toe haar mentor oorlede is.

“Toe ek uitgevind het sy is siek, en dat dit nie goed gaan eindig nie, het ek net gevoel ek kon nie wegbly nie. Sy het soveel van haar ervaring, haar krag en haar benadering met my gedeel. Sy het my te veel dinge geleer vir my om haar nie tot die einde te ondersteun nie,” het Krejcikova volgens AFP gesê.

“My ouers het gesê ek moenie gaan nie, want hulle kon sien hoe dit my verniel. Maar ek het gevoel ek móés daar wees.

Al is [Novotna] nie hier om met my te praat nie, is ek so bly daar is ander wat vir haar kan intree. Wat vir my kan sê wat sy sou gesê het en hoe sy die situasie sou gelees het.

“Een van die laaste goed wat sy vir my gesê het, is dat ek myself moet geniet en moet probeer Grand Slam-titels wen.”

Net sewe maande ná haar mentor se afsterwe het Krejcikova haar eerste Grand Slam-kroon verower, toe sy en Siniakova die Franse Ope se dubbelstitel gewen het. ’n Maand later was hulle ook baas by Wimbledon.

Novotna was wel nie Saterdag daar om te sien hoe haar laaste student ook in die enkelspel sukses behaal nie, maar Martina Navratilova het in die pawiljoen gesit en kyk, en Krejcikova later op die baan gelukgewens.

Kyk wie’s hier! Barbora Krejcikova word Saterdag deur die tennislegende Martina Navratilova gelukgewens met haar eerste Grand Slam-enkelspeltitel. Foto: Getty Images

Navratilova was een van Novotna se beste vriende en vir lank haar dubbelsmaat.

“Al is [Novotna] nie hier om met my te praat nie, is ek so bly daar is ander wat vir haar kan intree. Wat vir my kan sê wat sy sou gesê het en hoe sy die situasie sou gelees het. Hoe hard sy vir my geskree het. En wat so bly is dat Jana die regte ‘oog’ gehad het om my op die pad te plaas waarop ek is,” het die nuwe kampioen volgens die WTA gesê.

Meer oor:  Tennis  |  Barbora Krejcikova  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.