Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Krejcikova wen – en nou wink geskiedenis

Kort voordat die voormalige Wimbledon-kampioen Jana Novotna in November 2017 oorlede is, het sy in ’n laaste gesprek met haar protégé Barbora Krejcikova aan die jonger vrou gesê: “Gaan geniet alles en probeer ’n Grand Slam-titel wen.”

Barbora Krejcikova vertroetel gister haar nuwe trofee. Foto: Getty Images

Gister, drie en ’n half jaar later, het die 25-jarige Krejcikova presies dit gedoen – net twee weke nadat sy die heel eerste WTA-enkelspeltitel van haar loopbaan in ’n toernooi in Straatsburg gewen het, en enkele dae nadat ’n groot deel van die wêreld vir die eerste keer haar naam gehoor het.

Die Tsjeg se naam pronk nou op Roland Garros se Suzanne Lenglen-trofee nadat sy ’n wipplank-eindstryd teen Rusland se Anastasia Pavlyuchenkova met 6-1, 2-6, 6-4 gewen het. Die wedstryd het ’n uur en 58 minute geduur.

Boonop het sy ’n gulde geleentheid om vandag geskiedenis te maak wanneer sy saam met Katerina Siniakova vir die dubbelspel-eindstryd aantree.

Reken hulle af met Iga Swiatek en Bethanie Mattek-Sands, sal Krejcikova die eerste vrou sedert Mary Pierce in 2000 word wat sowel die enkel- as dubbelspel-titels by een Franse Ope wen.

Die enkelspel-eindstryd was gister ’n vreemde affêre, met albei spelers wat in die eerste 70 minute sowel vuurwarm as yskoud was.

Krejcikova het die eerste stel binne net 32 minute gewen, nadat sy die eerste pot (op haar eie afslaan) verloor het, maar die volgende ses potte ingepalm het.

Die Tsjeg het veral sukses behaal wanneer sy Pavlyuchenkova net toe ingekatrol het, met die Rus wat in die stel net een punt daar kon wen. Krejcikova, daarenteen, het vier keer van die net weggestap met ’n punt in die sakkie.

Die tweede stel het begin soos die eerste, met ’n pot-sukses vir Pavlyuchenkova. Dit was die eerste keer in die wedstryd wat sy ’n afslaanpot kon wen, ná 35 minute van aksie, en ’n baie welkome hupstoot.

Daarna het die Rus al die reëls begin maak. Waar sy in die eerste stel net ’n kwart van die punte op haar eie afslaan kon wen, het sy in die tweede net agt verloor – én 12 op Krejcikova se eerste afslaan ingepalm.

Die Tsjeg was ’n skaduwee van haar vroeëre oorheersende self, en het die een fout ná die ander ingeryg.

Die tweede stel is ná sewe potte onderbreek toe Pavlyuchenkova behandeling aan haar linkerdy gekry het, maar met die terugkeer het sy deurgebreek om die stel te beklink én het die eerste pot van die derde stel gewen.

Die wiele het daarna gedreig om af te kom, toe die Rus albei die volgende potte verloor het, maar ’n deurbraak in die vierde – ná ’n paar asemrowende voorarmhoue – het haar stert terug in die lug gekry.

Jana Novotna

En tog was hierdie nie ’n wedstryd waarin een van die twee spelers ooit vir baie lank momentum kon behou nie.

Krejcikova het in die sewende pot weer haar kop gelig en met ’n rits groot terughoue deurgebreek, sonder om die Rus ’n punt te gun.

In die pot daarna het die twee spelers mekaar rondgejaag, maar die Tsjeg kon die deurbraak nietemin konsolideer. En toe was al die druk op Pavlyuchenkova om haar afslaan te behou en die stryd te laat voortduur.

Dít kon die Rus doen, nadat sy twee wedstrydpunte afgeweer het en die groot druk wat Krejcikova met ’n afwisseling van mooi vlughoue en priemende voorarmhoue op haar gelaai het, kon absorbeer.

Maar in die pot daarna het Pav­lyuchenkova eenvoudig te min vuurkrag gehad om haar Tsjeggiese teenstander langer van die deur weg te hou.

Krejcikova het haarself wel teruggerem toe sy haar derde wedstrydpunt van die kragmeting met ’n dubbelfout verspeel het, maar met die vierde het sy geen fout gemaak nie, en ’n titel waaroor sy tot baie onlangs nie durf droom het nie, haar eie gemaak.

“Dis moeilik om nou die regte woorde te kry,” het sy agterna gesê. “Ek kan nie glo ek het pas ’n Grand Slam gewen nie!

“Ek het deur ’n moeilike tydperk gegaan nadat Jana Novotna (haar jare lange afrigter) oorlede is. Maar haar laaste woorde aan my was: ‘Gaan geniet dit en probeer ’n Grand Slam wen.’

“Hierdie het alles gebeur omdat sy afkyk na my.

“Sy was so ’n inspirasie. Ek mis haar regtig en ek hoop sy is nou gelukkig. Want ek is in die wolke.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.