Suid-Afrika se tennissusters, Zoë (18) en Bella Kruger (15), het na die twee internasionale Ilana Kloss-toernooi in Potchefstroom onderskeidelik met 99 en 82 plekke op die vroue se wêreldranglys geklim.

Zoë Kruger Foto: TSA
Zoë was as promotorskeuse in die eerste toernooi die enigste Suid-Afrikaner wat die kwarteindronde gehaal het. Sy beklee nou die 781ste plek op die vroueranglys. Sy was ’n keer al 526ste.
Bella moes vir die eerste toernooi kwalifiseer en het as promotorskeuse in die tweede gespeel.
Die tiener se 897ste plek is die hoogste posisie wat sy tot nog toe beklee het.
Suid-Afrika se voorste speler, die 28-jarige Chanel Simmonds wat ’n keer al 176ste was, het met twee plekke na 340ste teruggesak.
Sy is in Potchefstroom se eerste toernooi in die eerste ronde uitgeskakel waarna sy in die tweede die halfeindronde gehaal het. – Sportredaksie