Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kvitova en Kenin in halfeind
Petra Kvitova speel Woensdag ’n handrughou in haar kwarteindstryd teen Laura Siegemund. Foto: Getty Images

Die Franse Ope is gewaarborg van een gekeurde en een kwalifiseerder in Saterdag se vroue-enkelspel-eindstryd, met twee van die groot kanonne wat mekaar Donderdag in een halfeindstryd sal pak, en twee minder geroemdes in die ander.

Sofia Kenin, die vierde gekeurde, en die sewende gekeurde Petra Kvitova het Woensdag ’n afspraak met mekaar gemaak deur die kwarteindronde te oorleef.

Kvitova het Roland Garros bestempel as haar “gelukkige plek” nadat sy vir die eerste keer in agt jaar die laaste vier van dié kleibaan-Slam gehaal het.

Die 30-jarige Tsjeg het nog nie ’n stel afgestaan in vanjaar se toernooi nie en was Woensdag ook veels te sterk vir haar ongekeurde teenstander Laura Siegemund.

Sy het die Duitser binne ’n uur en 20 minute met 6-3, 6-3 ore aangesit.

Kvitova het drie jaar gelede by Roland Garros haar terugkeer tot die tennisbaan gemaak, nadat sy in die ses maande voor dit van ’n mesaanval in haar eie huis moes herstel.

Sy moes ’n operasie van sowat vier uur ondergaan om skade aan ligamente in haar linkerhand (waarmee sy speel) te probeer beperk, maar is nietemin deur haar dokters gewaarsku dat sy moontlik nooit weer sou kon tennis speel nie.

Toe sy tot die eindstryd in die 2019 Australiese Ope deurdring, was dit duidelik dat sy nie net weer gemaklik met ’n tennisraket in die hand was nie, maar ook so gevaarlik soos voor die aanval.

Ek kon nie daarvan droom om weer in ’n halfeindstryd te speel ná alles wat gebeur het nie.
Petra Kvitova

Die afgelope twee weke was dit weer eens so, met geen van haar teenstanders wat haar vir meer as twee uur op die baan kon hou nie en geeneen goed genoeg om ’n stel te wen nie.

“Vandag se oorwinning beteken baie vir my. ,” het sy ná haar wedstryd gesê.

“Hierdie is my gelukkige plek. Ek is regtig gelukkig om hier te wees en te kan speel. Ek het dit gemis toe ek nie hier was nie. Ek is gelukkig dat ek nog kan speel en met die bestes te kan meeding,” het sy gesê.

Sofia Kenin het die eerste keer die halfeindronde van die Franse Ope gehaal. Foto: Reuters

Kenin, die heersende Australiese Ope-kampioen, se pad na die halfeindronde was nie heeltemal so seepglad soos Kvitova s’n nie.

Haar landgenoot Danielle Collins het haar Woensdag vir drie stelle besig gehou, maar het teen die einde van die wedstryd sodanig las van ’n maagbesering gehad dat sy nie ’n enkele pot in die derde stel kon wen nie.

Ná ’n beslissende stel wat net 29 minute geduur het, was Kenin baas met 6-4, 4-6, 6-0.

Die 21-jarige Kenin, wat vier van haar vyf wedstryde in drie stelle gewen het, sal Donderdag vir die eerste keer in die halfeindronde van die Franse Ope aantree. Sy kon Kvitova nog nooit klop nie

“Dit lyk my ek hou daarvan om in drie stelle te wen. Dit is taai, maar die werk word gedoen,” het Kenin gesê.

Dit lyk my ek hou daarvan om in drie stelle te wen. Dit is taai, maar die werk word gedoen.
Sofia Kenin

In die ander vrouehalfeindstryd sal net een van die 19-jarige Pool Iga Swiatek en Nadia Podoroska (23) van Argentinië se sprokiestoernooi lewend gehou word.

Podoroska, wat voor hierdie toernooi nog nooit ’n Grand Slam-wedstryd kon wen nie, het Dinsdag ’n reuse-opskudding veroorsaak toe sy met die derde gekeurde Elina Svitolina klaargespeel het. In Swiatek het sy Donderdag ’n teenstander wat nog nie ’n enkele stel in vanjaar se Ope verloor het nie.

Die twee kwalifiseerders sal Donderdag om 15:00 in die eerste halfeindstryd speel.

Stefanos Tsitsipas

In die kwarteindronde van die mansenkelspel het Stefanos Tsitsipas Woensdag wraak geneem vir sy onlangse nederlaag in die eindstryd van die Hamburg Ope.

Tsitsipas, die vyfde gekeurde in Parys, het in daardie eindstryd naelskraaps teen Andrey Rublev verloor, maar in hul herontmoeting Woensdag nooit die gevaar geloop om weer tweede viool te speel nie.

Hy het die 13de gekeurde Rublev in skoon stelle met 7-5, 6-2, 6-3 geklop.

Novak Djokovic en Pablo Carreno Busta sou mekaar later Woensdagaand die stryd aansê. – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Stefanos Tsitsipas  |  Sofia Kenin  |  Petra Kvitova  |  Parys  |  Frankryk  |  Vroue-Enkelspel  |  Tennis  |  Kleibaan  |  Halfeind  |  Roland Garros  |  Grand Slam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.