Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kwarantyn-rekening byna R500 miljoen

Saam met die nuus dat nog twee Australiese Ope-spelers positief getoets is vir Covid-19, moes Tennis Australië, organiseerders van dié Grand Slam-toernooi, aanhoor dat hy die spelers se massiewe kwarantyn-kostes sal moet opdok.

Yulia Putinseva, wat tans 14 dae in kwarantyn moet deurbring in Melbourne, sê daar is muise in haar hotelkamer. Foto: Getty Images

Lisa Neville, polisieminister van die staat Victoria, het Woensdag gesê ’n verdere twee spelers, asook ’n niespelende betrokkene by die Ope, is positief getoets.

Tien mense wat by die toernooi in Melbourne werksaam sal wees, wat vier spelers insluit, is reeds positief getoets sedert spelers, beamptes en afrigters wêreldwyd met huurvlugte na Australië gereis en hul verpligte kwarantyn van 14 dae begin het.

Die presiese syfers vir die Covid-infeksies het vir verwarring gesorg, met verskeie positiewe toetse wat later geherklassifiseer is as viral shedding. Dít verwys na persone wat voorheen die virus gehad het, maar nie meer aansteeklik is nie.

Meer as 70 spelers en hul gevolg is tans in streng kwarantyn in hul hotelkamers en mag dit glad nie verlaat om te oefen vir die jaar se eerste Grand Slam-toernooi wat op 8 Februarie begin nie. Dít volg nadat passasiers op drie huurvlugte met hul aankoms Doer Onder positief vir Covid-19 getoets is.

Australiese tennisowerhede moes reusebedrae geld bestee om meer as 1 200 spelers, afrigters en beamptes op 17 huurvlugte in Melbourne te kry.

Craig Tiley, uitvoerende hoof van Tennis Australië (TA), het aan die radiostasie 3AW gesê die koste om al dié mense vir 14 dae in kwarantyn te plaas, kan meer as A$40 miljoen (sowat R461 miljoen) beloop en dat die regering van Victoria vir ’n deel daarvan sal betaal.

Neville het egter voet by stuk gehou dat belastingbetalers nie gaan opdok vir die tennislui se kwarantynkoste nie.

TA het in reaksie daarop teruggekrabbel en gesê hy sal die rekening vereffen.

• Daniel Vallverdú, afrigter van die driemalige Grand Slam-kampioen Stan Wawrinka, het intussen gesê die organiseerders moet voorkeurbehandeling gee aan die 70-plus-spelers wat in streng kwarantyn is en nie hul hotelkamers, soos die ander deelnemers, mag verlaat om vyf uur ’n dag te oefen nie.

Hy sê hulle sal hoogstens ’n dag of twee hê om op ’n baan te oefen voor die toernooi begin en moet dan voorkeur kry om oefengeriewe te kan gebruik. Hy het ook voorgestel dat hulle op gunstiger tye in die dag moet speel, wanneer dit nie so warm is nie.

• Yulia Putintseva, die wêreld se nr. 28-speler, het wéér gekla dat daar muise in haar kwarantynhotelkamer is.

Neville het belowe dat meer pesbeheer toegepas sal word, maar het spelers versoek om nie die knaagdiere te voer nie. – Reuters

Meer oor:  Australiese Ope  |  Rod Laver  |  Tennis  |  Wta  |  Atp  |  Craig Tiley  |  Covid-19  |  Melbourne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.