Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Djokovic word 6de lid van Klub 900

Novak Djokovic stel waarskynlik net in die syfer “agt” belang, maar dié Serwiese tennisster het nietemin Maandag in Melbourne ’n klompie ander mylpale in sy eerste wedstryd van vanjaar se Australiese Ope bereik.

Djokovic, tweede gekeur, poog om vanjaar die Aussie-kroon ’n ongeëwenaarde agtste keer te wen en moes hier en daar sweet om sy veldtog op ’n wennoot teen die Duitser Jan-Lennard Struff te laat begin.

Novak Djokovic het Maandag in Melbourne hier en daar kleigetrap in sy afslaanpotte, maar het steeds te veel skietgoed vir die Duitser Jan-Lennard Struff gehad. Foto: Reuters

Djokovic het die eerste twee stelle met 7-6(5), 6-2 gewen voordat Struff teen die verwagtinge in die derde stel met 6-2 gewen het. Dít het die wêreld se nr. 2 egter nie van stryk gebring nie en hy het die wedstryd beklink deur die vierde stel met 6-1 te wen.

Met daardie oorwinning het Djokovic, luidens ’n berig op atp.com, sy 900ste oorwinning in ’n ATP-wedstryd behaal. Hy is slegs die sesde lid van dié eksklusiewe klub. Die ander is Jimmy Connors, Guillermo Vilas, Ivan Lendl, Roger Federer en Rafa Nadal.

Daarbenewens het Djokovic die 14de jaar agtereenvolgens die tweede ronde in Melbourne gehaal.

Hy sal egter nie tevrede wees met die feit dat hy vier van sy afslaanpotte verloor het teen die wêreld se nr. 37 nie.

Federer, ’n ander lid van tennis se “Groot Drie” en derde gekeur vir die jaar se eerste Grand Slam, sal min klagtes oor sy vertoning in die eerste ronde hê. Hy het die Amerikaner Steve Johnson in skoon stelle (6-3, 6-2, 6-2) verslaan.

Die grootste verrassing in die mansenkelspel op die eerste dag was waarskynlik die oorwinning wat die Hongaar Márton Fucsovics oor die gedugte Kanadees Denis Shapovalov behaal het.

Shapovalov, 13de gekeur, het in vier stelle teen die wêreld se nr. 66 verloor.

Ashleigh Barty, die topgekeurde vrou op die Australiese Ope, het drie stelle nodig gehad om haar eersteronde-wedstryd te wen. Foto: Reuters

Wat die vroue-afdeling betref, was daar gemengde sukses vir die immergroen Williams-susters.

Serena (38), op soek na haar 24ste Grand Slam-titel om Margaret Court se rekord te ewenaar, het die Rus Anastasia Potapova in net 58 minute met 6-3, 6-0 afgeransel.

Daarteenoor het haar 39-jarige suster, Venus, vir die tweede keer in die eerste ronde van ’n Grand Slam-toernooi haar rieme teen die jong tiener Coco Gauff styfgeloop.

Die 15-jarige Gauff, wat verlede jaar op Wimbledon ook met die Amerikaanse veteraan afgereken het, het Maandag in Melbourne in skoon stelle (7-6, 6-3) gewen.

Nog twee voormalige Grand Slam-wenners, Sloane Stephens (VSA) en Sam Stosur, het in die eerste ronde gesneuwel.

China se Shuai Zhang het Stephens, 24ste gekeur, met 2-6, 7-5, 6-2 uitgeskakel, terwyl ’n Amerikaanse kwalifiseerder, Catherine McNally, verbasend maklik met die ervare Aussie Stosur afgereken het. McNally het die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen met 6-1, 6-4 pak gegee.

Die topgekeurde vrou, Ashleigh Barty, het herstel ná ’n swak begin teen Lesia Tsurenko, ’n speler van die Oekraïne wat maar 120ste op die wêreldranglys is, en met 5-7, 6-1, 6-1 gewen.

Die verdedigende vrouekampioen en derde gekeurde, Naomi Osaka, het Marie Bouzková in ’n uur en 20 minute haar tasse laat pak. Die telling was 6-2, 6-4.

* Alle oë sal Dinsdag op die mans se topgekeurde, Nadal, wees. Hy begin sy veldtog teen die Boliviaan Hugo Dellien. Suid-Afrikaners sal ook die vertonings van hul landgenote Kevin Anderson en Lloyd Harris dophou. – Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.