Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Roger verloor teen 20-jarige

Die 20-jarige Kanadees Felix Auger-Aliassime het Woensdag die grootste oorwinning van sy jong tennisloopbaan behaal.

Hy het Roger Federer geklop in wat bestempel word as een van die Switserse maestro se “agterplase”.

Felix Auger-Aliassime van Kanada speel Woensdag ’n handrughou na Roger Federer in die Halle-toernooi in Duitsland. Foto: Getty Images

As ’n tienmalige kampioen in die Halle-toernooi in Duitsland, was Federer die gunsteling vir dié stryd in die tweede ronde.

Dit was die eerste keer tot nog toe dat Federer (39) te staan gekom het teen iemand wat in die 2000’s gebore is.

In die eerste stel het dit gelyk asof Federer die jongeling gaan wys wie is baas. Hy het in die sewende pot van die eerste stel op Auger-Aliassime se afslaan deurgebreek en die stel in 35 minute beklink.

Die Kanadees het egter reeds in die eerste pot van die tweede stel op die Switser se afslaan deurgebreek en die stel in ’n japtrap met 6-3 gewen.

’n Mens het gedink Federer sou in die beslissende stel sy stempel afdruk, maar dit was Auger-Aliassime wat met 6-2 gewen het om sy held in 1 uur 44 minute te klop.

Dit was Federer se tweede wedstryd vanjaar op gras nadat hy hom vroeër vandeesmaand aan die Franse Ope onttrek het.

Hy sal waarskynlik nou net in die Eastbourne-toernooi kans kry vir nóg slypwerk voordat Wimbledon op 28 Junie begin.

Auger-Aliassime sal nou teen die Duitser Jan-Lennard Struff of Marcos Giron van Amerika te staan kom.

Vroeër Woensdag het die Duitser Philipp Kohlschreiber die Fransman Corentin Moutet met 6-4, 7-6(4) geklop.

Rusland se Andrey Rublev het die Australiër Jordan Thompson met 6-4, 6-4 afgeransel.

• In die dubbelspel het Suid-Afrika se Lloyd Harris en sy Isreaeliese speelmaat, Jonathan Erlich, met 6-3, 6-3 met Oliver Marach van Oostenryk en Aisam-ul-Haq Qureshi van Pakistan afgereken.

Suid-Afrika se Raven Klaasen was egter aan die verloorkant. Die Argentyne Andres Molteni en Guido Pella het Klaasen en Ben McLachlan van Japan met 7-6(4), 7-6(6) geklop.

Harris sal Donderdag in die enkelspel teen Lukas Lacko van Slowakye te staan kom.

• Intussen het twee voormalige Wimbledon-kampioene, Venus Williams en Andy Murray, Woensdag spesiale uitnodigings na dié grasbaantoernooi gekry.

Williams, wat Donderdag haar 41ste verjaardag vier, het vyf van haar sewe Grand Slam-enkelspeltitels op Wimbledon gewen.

Sy het egter nou tot nr. 103 op die wêreldranglys teruggesak.

Williams het in Februarie die tweede ronde van die Australiese Ope gehaal, maar kon sedertdien nie verder as die eerste ronde in enige toernooi daarna vorder nie.

Murray is ná ’n rits beserings die laaste paar jaar nr. 124 op die ranglys. Hy het sy Wimbledon-titels in 2013 en 2016 gewen.

Die 34-jarige Skot het Maandag ná drie jaar sy terugkeer na grasbaantennis gemaak en Benoit Paire van Frankryk met 6-3, 6-2 in die Queen’s-toernooi geklop.

Hy sal in die tweede ronde teen Matteo Berrettini te staan kom. – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Tennis  |  Roger Federer  |  Felix Auger-Aliassime
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.