’n Tennisspeler is omgekrap nadat ’n skeidsregter hom berispe het toe hy ’n baljoggie vra om ’n piesang vir hom te skil.
CNN berig Elliot Benchetrit, 231ste op die wêreldranglys, het Saterdag ’n blaaskans gevat in sy kwalifiseringswedstryd om die Australiese Ope teen Dmitry Popko toe ’n baljoggie hom ’n piesang aanbied.
Die 21-jarige Fransman het haar gevra om die piesang vir hom te skil. Die meisie het verward gelyk en na die skeidsregter, John Blom, opgekyk voordat die beampte Benchetrit tereggewys het.
Sy het die piesang aan Benchetrit teruggegee. Hy het verbaas tussen die joggie en die piesang gestaar voordat hy die piesang met sy tande oop byt en dit skil.
Benchetrit het daarna met die skeidsregter gestry en was duidelik ontsteld toe hy opstaan om met die wedstryd voort te gaan.
Volgens hom het die pleisters op sy vingers hom verhoed om die piesang self te skil, terwyl hy later ook beweer het die beeldmateriaal vertel nie die volle verhaal nie.
Die tennislegende Martina Navratilova het ’n video van die voorval op Twitter gedeel met die onderskrif: “Wat is volgende, druiwe? #entitlement. John het beslis die regte ding gedoen.”
Die voorval, wat op sosiale media as “Banana Gate” bekend staan, het Benchetrit nie ontwrig nie en hy het die kragmeting gewen om vir die Australiese Ope te kwalifiseer.
– Sportredaksie