Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Rafa rol Novak op Rome se klei
Terug op die kruin . . . Rafael Nadal bal sy vuiste ná hy die Italiaanse Ope Sondag in Rome vir die negende keer gewen het.Foto: AP

Vir ’n paar dae vroeër vandeesmaand het die tenniswêreld hardop gewonder of Rafael Nadal se dae van goël en gil op Europa se rooi klei agter hom is.

Sondag in Rome het hy al daardie twyfelende Thomasse se monde gesnoer.

Die Spanjaard het die Italiaanse Ope-titel vir die negende keer in sy loopbaan verower toe hy ’n uitmuntende eindstryd teen die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, binne 2 uur en 25 minute met 6-0, 4-6, 6-1 gewen het.

Dit was die 50ste keer in sy loopbaan dat hy in die eindstryd van een van die ATP-reeks se Meesterstoernooie gespeel het.

Danksy sy 34ste sege is hy nou die alleen-eienaar van die rekord vir die meeste Meesterstitels ooit – ’n eer wat hy tot voor dié stryd met Djokovic gedeel het.

Nadal het vir die eerste keer sedert 2004 in Rome aangekom sonder ’n kleititel agter sy naam, ná hy in Monte Carlo, Barcelona én Madrid in die halfeindronde uitgeskakel is.

Daar was dus ’n wesenlike gevaar dat hy vir die eerste keer in 15 jaar die Franse Ope sou binnegaan sonder enige voorafgaande klei-sukses – ’n idee waaraan hy swaar gesluk het.

Hoe graag hy daardie scenario wou vermy, was uit die staanspoor van Sondag se Rome-eindstryd duidelik. Nadal het reeds in die heel eerste pot op Djokovic se afslaan deurgebreek, en voor party van die toeskouers hul eerste koeldrankie van die middag kon klaarmaak, reeds die stel met 6-0 beklink.

Dit was die eerste keer in die 54 wedstryde tussen Nadal en Djokovic dat een van hulle nie ’n enkele pot in ’n stel kon wen nie. Maar dit was nie vir Nadal ’n nuutjie nie: die Serwiër was Nadal se vierde teenstander van die week wat in ’n stel van die telbord gehou is.

Die vernedering van die eerste stel het Djokovic skynbaar wakker geskud en hy was ’n heel ander speler in die tweede. Skielik was daar weer krag agter sy afslane en het hy terughoue teen waaghalsige hoeke geslaan.

Die Nadal-taktiek van fokus op die Djokovic-handrug het nie meer so doeltreffend gewerk nie en die Spanjaard al hoe onrustiger gemaak.

Uiteindelik het sy onvermoë om ’n rits deurbraak-geleenthede te benut hom duur te staan gekom, toe Djokovic sy gebrek aan konsentrasie in die tiende pot van die stel uitgebuit het om dit in te palm.

Dat die derde stel daarna weer blote eenrigting-verkeer was, was ’n verrassing. Ons is nou al gewoond daaraan dat Djokovic moeilik laat gaan as hy eers die stang tussen die tande het, maar in dié geval het hy presies dít gedoen.

Terwyl Nadal weer uitgestal het waarom hy as die beste kleibaanspeler ooit beskou word – danksy kraghoue vanaf die agterbaan, uitstekende beweeglikheid en sekure afslane – het Djokovic die foute weer begin inryg.

Sy uiteindelike nederlaag was ’n gróót gebeurtenis. Het dié uitslag anderkant toe gegaan, sou Djokovic as gunsteling beskou word om Nadal oor drie weke van sy Franse troon te stamp.

Nou is die Spanjaard egter terug in die stoel van gunsteling, met sy aura van onoorwinlikheid op klei weer helder om hom.

Die Franse Ope begin aanstaande Sondag. Nadal hoop om dié Grand Slam-toernooi dan vir ’n ongeëwenaarde 12de keer te wen.

Meer oor:  Klei  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Rome  |  Franse Ope  |  Italiaanse Ope  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.