Terwyl Kevin Anderson Donderdag moes tasse pak by die Australiese Ope, kon Rafael Nadal, Alexander Zverev, Daniil Medvedev, Stan Wawrinka, Dominic Thiem en Nick Kyrgios almal hul verblyfreëlings in Melbourne verleng.
Die grootste drama in Nadal se wedstryd teen die Argentyn Federico Delbonis was toe hy ’n misplaaste bal teen ’n baljoggie se kop vasgeslaan het.
Die Spanjaard het die meisie met ’n soen op die wang om verskoning gevra en ná die wedstryd een van sy kopbande vir haar gegee.
Daardie hou was een van net enkeles wat nie Donderdag beland het waar Nadal beplan het nie.

Rafael Nadal. Foto: Getty
Hy het al die reëls gemaak terwyl hy Delbonis met 6-3, 7-6 (7/4), 6-1 geklop het.
Zverev, die sewende gekeurde, kon in sy sege met 7-6 (7/5), 6-4, 7-5 oor Egor Gerasimov vir ’n slag die dubbelfout-duiwel wat hom so graag hinder van die deur hou. Waar hy verlede jaar ’n gemiddeld van 5.9 dubbelfoute per wedstryd gehandhaaf het, en in die eerste ronde in Melbourne ook vier gemaak het, was daar Donderdag geen.
Die opwindende Rus Daniil Medvedev se opgang duur voort, danksy ’n oorwinning van 7-5, 6-1, 6-3 oor die kwalifiseerder Pedro Martinez.
Die omstrede Nick Kyrgios het Australië se hoop op ’n eerste plaaslike manskampioen sedert 1976 lewend gehou deur Gilles Simon met 6-2, 6-4, 4-6, 7-5 te verslaan.
Stan Wawrinka, die kampioen van 2014, het harde bene gekou teen Andreas Seppi, en vyf stelle nodig gehad om met 4-6, 7-5, 6-3, 3-6, 6-4 te seëvier.
Anderson se toernooi is verby nadat die Amerikaner Taylor Fritz van ’n agterstand van twee stelle teruggeveg het om hom met 4-6, 6-7 (5/7), 7-6 (7/4), 6-2, 6-2 te klop.