Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Serena-spotprent: ‘Ek’s g’n rassis’

Die Aussie-spotprentkunstenaar wat hewige kritiek ontlok het ná sy uitbeelding van die tennisster Serena Williams, dring daarop aan hy is nie ’n rassis nie.

Mark Knight se spotprent, wat Maandag in Melbourne se Herald Sun gepubliseer is, skets ’n mannetjiesagtige Williams met dik lippe wat by die Amerikaanse Ope op en af op ’n gebreekte raket spring.

HeraldSun.com.au berig Knight sê hy is genoop om sy Twitter-rekening oornag te sluit weens die teistering wat sy gesin uit sekere oorde moes verduur oor sy uitbeelding van Williams se woedeuitbarsting.

Die chaotiese einde van die eindstryd vir vroue in vanjaar se toernooi het oor die wêreld heen ’n vurige debat ontketen.

Williams is met $17 000 (sowat R259 000) beboet weens die gedragskode-oortredings waaroor sy in die eindstryd gewaarsku is. Dit het gelei tot aantygings dat dubbele standaarde vir mans- en vrouespelers in die sportsoort geld.

Die Amerikaner se veldtog om haar 24ste Grand Slam-titel te verower is deur die Japanner Naomi Osaka in die wiele gery.

In die spotprent vra die skeidsregter Osaka: “Kan jy haar nie net laat wen nie?”

Die kampioen Naomi Osaka (link) staan met trane in haar oë by Serena Williams ná afloop van die eindstryd vir vroue op die Amerikaanse Ope. Foto: Getty Images

Knight sê in ’n verklaring op die Herald Sun se webwerf dat die spotprent niks met rassisme uit te waai het nie en dat hy eerder die speler se “swak gedrag” wou uitlig.

“Ek het hierdie spotprent Sondagaand geteken nadat ek die eindstryd van die Amerikaanse Ope gekyk het. Ek het aanskou hoe die wêreld se beste tennisspeler ’n woedeaanval kry en gedink dit is interessant,” sê Knight.

“Dit het sosialemediagebruikers in die VSA opgeval en my telefoon het aanhoudend gelui.

“Drie dae tevore het ek ’n spotprent van Nick Kyrgios geteken waarin hy aan sy ore van die baan af gelei word, soos jy destyds met jou kinders gedoen het.

“Die spotprent van Serena gaan oor haar swak gedrag op die dag, nie oor ras nie,” sê hy.

“Ek het die mense (op sosiale media) probeer antwoord, maar hulle wil net nie luister nie.

“Jy is op enige gegewe dag ’n held en op enige gegewe dag ’n uitgeworpene. Jy moet eenvoudig daarmee saamleef.”

Die Herald Sun het ook ’n verklaring uitgereik ná die hewige teenreaksie, veral uit die VSA.

“ ’n Kampioen-tennisspeler het ’n massiewe woedeaanval op die wêreldverhoog gehad en Mark se spotprent het dit uitgebeeld,” sê die publikasie se redakteur, Damon Johnston.

“Dit het niks met geslag of ras te doen gehad nie.”

Die koerant het die spotprent Woensdagoggend weer gepubliseer en die spot gedryf met "ons nuwe polities korrekte lewe".

– Sportredaksie 

Meer oor:  Spotprent  |  Tennis  |  Mark Knight  |  Naomi Osaka  |  Amerikaanse Ope  |  Serena Willams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.