Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Serena struikel; Caroline groet
Serena Williams se veldtog om ’n 24ste Grand Slam-titel het Vrydag weer misluk. Foto: Getty Images

Die sewemalige kampioen Serena Williams het Vrydag haar vroegste nederlaag in 14 jaar in die Australiese Ope gely nadat sy in die derde ronde met 6-4 6-7(2) 7-5 deur China se Wang Qiang geklop is.

Die 29-jarige Wang, wat in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope in slegs 44 minute deur Williams verneder is, het daarmee die Amerikaner se veldtog om die Grand Slam-rekord van 24 titels te ewenaar, tot ’n einde gebring.

AusOpen.com berig Williams (38), agtste gekeur vir die toernooi, was die beroepswedders se gunsteling om haar agste titel in Melbourne te verower.

Haar laaste major-sukses was in 2017 in die einste Australiese Ope, maar sy het tekort geskiet in agt Grand Slam-toernooie sedert haar terugkeer in 2018 ná die geboorte van haar dogter.

Wang, 27ste gekeur, se teenstander in die volgende ronde is die Tunisiër Ons Jabeur, wat vroeër met Williams se goeie vriendin Caroline Wozniacki afgereken het.

Die Deen, wat in Desember bevestig het hierdie sal haar laaste toernooi wees, het met 7-5, 3-6, 7-5 verloor.

Wozniacki (29), ’n voormalige wêreld-nommereen, het haar skitterende loopbaan met 30 WTA-titels en ’n Grand Slam-kroon, by Melbourne Park in 2018, afgesluit.

Caroline Wozniacki se tennisloopbaan het Vrydag tot ’n einde gekom. Foto: Getty Images

“Dit is gepas dat my laaste wedstryd oor drie stelle beslis is, ’n taai kragmeting en ek het my loopbaan geëindig met ’n ongedwonge fout,” het ’n tranerige Wozniacki ná afloop van haar nederlaag gesê.

“Ek skat dit is nou maar net hoe dinge bedoel was.

“Ek het ongelooflike ondervindinge op die baan beleef, fantastiese aanhangers en wonderlike ondersteuning van my familie, veral my pa, wat my al hierdie jare afgerig het.

“Ek huil nie gewoonlik nie. Ek het spesiale herinneringe wat ek sal koester, dit was ’n wonderlike reis gewees.

“Maar ek is gereed vir die volgende hoofstuk, gereed vir wat voorlê.”

Die plaaslike gunsteling en wêreld-nommereen, Ashleigh Barty, het die 29ste gekeurde Elena Rybakina met 6-3, 6-2 afgestof.

Barty, wat slegs 78 minute nodig gehad het om die jong Kazakh te klop, voel sy het haar beste wedstryd van die jaar gespeel.

“Ek het gevoel ek moet regtig gefokus wees hiervoor, dit was my beste wedstryd sover hierdie somer,” sê sy.

* In die mansloting het die tweede gekeurde Serwiër Novak Djokovic min probleme ervaar om Yoshihito Nishioka van Japan met 6-3, 6-2, 6-2 af te ransel. Die sewemalige kampioen het in die eerste twee stelle slegs ’n enkele punt op sy eie afslaan afgestaan.

Diego Schwartzman (14de gekeur), die Argentyn wat die belowende Suid-Afrikaner Lloyd Harris in die eerste ronde uitgeboender het, was met 6-2, 6-3, 7-6 baas teen Dusan Lajovic van Serwië.

VOLLEDIGE UITSLAE

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.