Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Switsers kan Federer nou in hul sak druk
Roger Federer. Foto: Getty Images

Roger Federer-aanhangers in sy tuisland, Switserland, waar hy as ’n nasionale held beskou word, kan dié tennislegende nou in hul sakke ronddra.

Die Switsers het Dinsdag ’n muntstuk gedruk wat Federer uitbeeld waar hy ’n handrughou slaan.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat die land só hulde bring aan ’n persoon wat nog lewe.

Federer (38) het ’n video wat wys hoe die nuwe munte gedruk word op Twitter gedeel en Switserland bedank vir die “ongelooflike eer en voorreg”.

Roger Federer
So lyk die Roger Federer-gedenkmuntstuk. Foto: Swissmint

Die beperkte uitgawe Sfr20 silwer muntstuk is vir vooraf verkope tot 19 Desember op Swissmint se webtuiste te koop en net 55 000 stukke gaan aanvanklik gedruk word.

“Roger Federer se sportprestasies, sy welsynswerk, sy gemaklike persoonlikheid en sy toeganklikheid het Swissmint laat besluit om aan hom hulde te bring met hierdie Sfr20 silwer muntstuk. Dit is die eerste keer dat Swissmint hierdie eer aan ’n persoon wat nog lewe betoon,” sê ’n woordvoerder van Swissmint, berig Skysports.

Daar word ook volgende jaar nog muntstukke uitgereik om Federer te vereer. In Mei word ’n Sfr50 goue munstuk met ’n nuwe ontwerp verwag.

Luidens die Vereniging van Beroepstennisspelers (ATP) se webtuiste het Federer derde geëindig in die 2019-eindjaar-ranglys. Dit was die 15de jaar wat hy in die topdrie geëindig het.

* Federer se landgenoot en voormalige tennisster Martina Hingis het intussen voorspel dat hy in 2020 ’n 21ste Grand Slam-kroon sal verower.

Federer het in Januarie 2018, by die Australiese Ope, laas ’n Grand Slam-titel gewen, maar het so byna vanjaar titel nr. 21 op Wimbledon ingepalm.

Hy het daar twee wedstrydpunte deur sy vingers laat glip in ’n epiese eindstryd teen Novak Djokovic.

Baie kenners meen dit was die beste Grand Slam-eindstryd van álle tye.

Hingis glo Federer se oorwinning oor Djokovic in die ATP-jaareindtoernooi verlede maand sou hom baie selfvertroue gegee het.

“Hy (Federer) dink seker nog baie aan daardie Wimbledon-eindstryd, maar hy het by die ATP-eindtoernooi op ’n manier wraak geneem.

“Hy weet hy is nog daartoe in staat om Djokovic te klop.

“Dit sal sielkundig baie help. Ek dink steeds hy is een van die groot gunstelinge by Wimbledon,” het Hingis gesê.


Meer oor:  Roger Federer  |  Switserland  |  Tennis  |  Muntstuk  |  Eerbewys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.