Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Murray skok met aankondiging

Andy Murray het Vrydag onthul hy tree vanjaar uit weens erge pyn in sy regterheup, met die Australiese Ope moontlik sy laaste toernooi as ’n beroepstennisspeler.

Andy Murray sukkel Vrydag om die trane te keer. Foto: Getty Images

Die Brit, wat in vyf eindstryde by Melbourne Park verskyn het, het verlede jaar ’n operasie op sy heupbeen ondergaan en kon sedertdien nie sy beste spelpeil behaal nie.

’n Emosionele Murray (31), wenner van drie Grand Slam-titels, het Vrydag gesê hy hoop om minstens tot en met vanjaar se Wimbledon mee te ding. Maar hy voel die Aussie Ope mag dalk sy swanesang wees omdat die pyn in sy heup byna ondraaglik geraak het.

“Ja, ek dink daar is ’n kans dit kan gebeur, vir seker,” sê hy.

“Die pyn is regtig te veel. Ek is nie seker ek sal vir nog vier of vyf maande deur die pyn kan speel nie. Die pyn laat my nie toe om my tennis te geniet nie, om mee te ding of te oefen, niks nie.”

Murray sê hy oorweeg verdere heupoperasies, maar gee toe dit is meer gemik om sy “lewensgehalte” te verbeter en beteken nie noodwendig hy sal uiteindelik ’n terugkeer maak nie.

“Ek het die opsie om nog ’n operasie te ondergaan wat ’n bietjie hewiger is as voorheen, een wat my lewensgehalte sal verbeter,” sê hy.

“Dit is iets wat ek tans ernstig oorweeg. Sommige sportlui het soortgelyke operasies ondergaan en teruggekeer na die sportveld, maar uit die aard van die saak is daar geen waarborge nie.”

Hy sê alledaagse take, soos om sy kouse en skoene aan te trek, veroorsaak hom erge pyn en hy is moeg daarvoor om met elke gesprek oor sy heup te gesels.

Murray, wat Donderdag in ’n oefenwedstryd op Melbourne Park duidelik gesukkel het in sy nederlaag van 6-1, 4-1 teen die eerste gekeurde Novak Djokovic, kom Maandag in die eerste ronde teen die Spanjaard Roberto Bautista Agut (22ste) te staan.

“Ek gaan speel, ek kan steeds op ’n seker vlak meeding, maar nie ’n vlak waarmee ek tevrede is nie,” sê hy.

– Reuters

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Andy Murray  |  Melbourne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.