Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kyrgios se visier op ‘lummel’ Djokovic

Nick Kyrgios tel onder Novak Djokovic se luidste kritici nadat die Serwiese wêreldnommereen glo in ’n brief aan die organiseerders van die Australiese Ope gevra het om kwarantynmaatreëls vir spelers te verslap.

Nick Kyrgios maak geen geheim van wat hy dink van Novak Djokovic nie. Foto: Getty Images

Passasiers op drie huurvlugte na Melbourne is onder streng kwarantyn, insluitende meer as 70 spelers wat vir 14 dae verbied word om buite hul kamers te oefen voor die eerste Grand Slam van die jaar op 8 Februarie begin.

Djokovic het aan Craig Tiley, grootbaas van Tennis Australië, geskryf met ’n lys “eise”, insluitende ’n vermindering van die verpligte 14 dae in isolasie en dat spelers na “private huise met tennisbane” geskuif word sodat hulle kan oefen.

Kyrgios het Djokovic gereeld in 2020 gekritiseer vir sy Adria Tour-vertoontoernooi in die Balkan, waar verskeie spelers die koronavirus opgedoen het.

“Djokovic is ’n lummel,” sê Kyrgios, 47ste op die wêreldranglys, op Twitter.

Djokovic, wat in 2020 verkies het om in ’n huurhuis tuis te gaan vir die Amerikaanse Ope, tel onder die topspelers in kwarantyn in Adelaide voordat hulle na Melbourne reis.

Baie Aussies bevraagteken die besluit om die toernooi aan te bied, met organiseerders wat sowat 1 200 spelers en hul ondersteuningspanne na die land laat reis het terwyl duisende burgers oorsee gestrand is weens die Covid-19-pandemie.

Kyrgios laat hom ook uit oor sy landgenoot Bernard Tomic se meisie, Vanessa Sierra, wat kla dat die kos wat in hul kwarantynhotel bedien word koud is en ontevrede is dat sy haar eie hare moet was.

“Hierdie is die ergste deel van kwarantyn,” sê Sierra op haar YouTube-kanaal.

“Ek was nie my eie hare nie. Ek het nog nooit my eie hare gewas nie. Dit is eenvoudig nie iets wat ek doen nie. Onder normale omstandighede betaal ek haarkappers om dit twee keer per week vir my te doen.

“Hierdie is die situasie waarin ons onsself bevind. Ek kan nie wag om uit kwarantyn te kom nie sodat ek net my hare kan laat doen.”

Kyrgios (25), wat sedert die begin van die pandemie vuur spoeg oor tennisspelers wat die Covid-19-protokol verontagsaam, is nie beïndruk nie.

“Ek het nie ’n probleem met Bernie nie, maar sy meisie beskik duidelik oor geen perspektief nie, belaglike tonele,” sê Kyrgios.

Sam Groth, ’n voormalige Australiese Davisbeker-speler, het ook Djokovic se optrede bevraagteken.

Sam Groth in sy speeldae vir Australië. Foto: Getty Images

Djokovic, wat verlede jaar die Vereniging vir Beroepstennisspelers begin het nadat hy bedank het as die hoof van die ATP se Spelersvereniging, is op soek na gewildheid, meen Groth.

“Is hy ernstig? Dit is ’n selfsugtige politieke skuif wat daarop gemik is om gewildheid te werf,” skryf hy in sy rubriek vir The Herald Sun.

“Om voor te stel dat spelers se kwrantyn verkort moet word is nie net verregaande nie, dit is ’n belediging vir Aussies wat die inperking moes verduur.

“Wat het hy gedink sou gebeur? Dat Dan Andrews (premier van Victoria) sou sê ‘seker Novak, nes jy wil’? Spaar my.”

– Reuters

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Adria-Reeks  |  Tennis  |  Nick Kyrgios  |  Bernard Tomic  |  Covid-19  |  Melbourne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.