Nick Kyrgios gaan nie sy kritiek van Novak Djokovic staak nie en sê sy morele waardes noop hom voort te gaan om sy eweknieë vir “swak gedrag” te berispe.

Nick Kyrgios beskryf dit as sy morele plig om Novak Djokovic vir sy aksies aanspreeklik te hou. Foto: Getty Images
Die omstrede Aussie-tennisspeler het Djokovic verlede week as ’n “idioot” (tool) beskryf nadat die Serwiese wêreld-nr. 1 in ’n brief aan die Australiese Ope-organiseerders gevra het om die streng kwarantynmaatreëls vir deelnemers te verslap.
Kyrgios het Djokovic, wenner van ’n rekord agt Australiese Ope-titels, lank reeds in sy visier. Djokovic se gewaagde Adria-vertoonreeks verlede Junie, waar hy en ander spelers weens swak gesondheidsmaatreëls positief vir Covid-19 getoets is, is deur Kyrgios as ’n “domkopbesluit” beskryf.
News.com.au berig Kyrgios, 47ste op die wêreldranglys, voer aan sy morele waardes sal verseker dat hy sy medeberoepspelers vir hul aksies aanspreeklik hou.
Die gretige NBA-aanhanger vergelyk Djokovic se invloed in die sport met die LA Lakers-superster LeBron James se invloed in basketbal.
“Djokovic is een van die leiers van ons sport. Hy is tegnies ons LeBron James wat betref die voorbeeld wat hy vir alle tennisspelers moet stel,” sê Kyrgios.
“Sommige van die goed wat hy gedoen het in die wêreldwye pandemie . . . dit was eenvoudig nie die regte tyd nie.”
Krygios sê hy besef almal maak foute en sommige van hulle as tennisspelers raak soms die pad byster, maar hulle moet mekaar aanspreeklik hou.
“Ons is uiteindelik kollegas, ons ding mee teen mekaar, ons beoefen dieselfde sport,” sê hy.
“Niemand anders het hom (Djokovic) werklik aanspreeklik gehou nie. Almal raak soms die pad byster en ek dink hy moet homself net ’n bietjie inhou.”
Volgens Kyrgios doen hy niks hiervan om aandag by die media te kry nie.
“Dit is die morele waardes waarmee ek grootgeword het en ek het maar net probeer om my deel by te dra.” – Sportredaksie