Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Las is van my skouers, sê Federer
Roger Federer vee Woensdag gedurende sy wedstryd teen Hubert Hurkacz die sweet van sy gesig af terwyl die skrif aan die muur al hoe duideliker raak. Foto: AP

In die tweede week van Junie het die Pool Hubert Hurkacz hom op die gras van Stuttgart teen ’n Switser vasgeloop. Nie teen die 39-jarige superster wat soveel spelers al op die wêreld se grasbane gebuig en gebreek het nie, maar ’n 18-jarige wat 2021 buite die top-1100 op die wêreldranglys begin het.

Dit is dus geen wonder nie dat die wêreld Hurkacz voor sy Wimbledon-kwarteindstryd Woensdag teen Roger Federer geen kans gegun het om te wen nie.

Voor vanjaar se gras-Slam het die Pool immers ses agtereenvolgende wedstryde verloor, onder meer in skoon stelle teen die Switserse tiener Dominic Skinner.

Nadat hy ’n Meesterstitel in April in Miami verower het, het hy Covid-19 opgedoen en sy spelpeil het ernstig in die hek geduik. Niks het daarop gedui dat hy die laaste vier op Wimbledon kon haal nie.

Uiteindelik het Hurkacz nie net daar uitgekom nie, hy het dit in styl gedoen – eers deur die wêreld se naasbeste speler, Daniil Medvedev, in vyf stelle te verslaan, gevolg deur ’n skoonstel-sege oor Federer.

Sy wentelling van 6-3, 7-6(4), 6-0 vertel ’n storie, maar nie die volle verhaal nie.

Die laaste keer dat Federer in skoon stelle op Wimbledon verloor het, was in 2002. In die 101 wedstryde wat hy tussen 1998 en Woensdag daar gespeel het, was hierdie een net sy derde skoonstel-loesing – en die eerste keer nog dat hy ’n stel met 0-6 verloor het.

Hubert Hurkacz bewonder Roger Federer al so lank soos hy kan onthou, maar hy het geweier om hom Woensdag deur heldeverering te laat verblind. Foto: AP

In alle Grand Slam-toernooie het hy net twee keer tevore geen potte in ’n stel gewen nie – in 1999 in sy heel eerste Franse Ope-wedstryd teen Pat Rafter, en in 2008 se Franse Ope-eindstryd teen Rafael Nadal.

Grasieus soos hy is, het Federer Woensdagmiddag geweier om in ’n hopie in die puin van sy vernedering te gaan sit. ’n Maand voor sy 40ste verjaardag is sy vermoë om ’n silwer randjie aan ’n donker wolk te sien goed ontwikkel.

“Ek is eintlik baie bly dat ek so ver gevorder het hier, en dat ek ná alles waardeur ek is (twee knie-operasies in 2020) dié vlak kon handhaaf,” het hy aan die wêreldmedia gesê.

Vir die voorspelbare vraag of Wimbledon hom ooit weer in aksie sal sien, het hy ook ’n antwoord gehad.

“Natuurlik wil ek graag weer hier speel,” het hy gesê. “Maar op my ouderdom is jy nooit seker wat om die draai wag nie. Dis nie lekker (om so te verloor) nie,” het hy bygevoeg. “Maar ek het soveel ongelooflike dinge hier beleef dat dit oukei is. Dis deel van die sport.

“In die oomblik self was ek baie teleurgesteld – ek is steeds. Maar terselfdertyd val daar ’n gewig van jou skouers af wanneer ’n toernooi verby is, wanneer ’n groot doelwit bereik of misgeloop is. Dit maak eintlik nie saak nie. Jy voel die las lig en is net uitgeput.”

Federer het die reg verdien om nie in sak en as oor uitslae soos Woensdag s’n te wees nie. Geen nederlaag, hoe groot ook al, kan meer die herinneringe aan al sy goue dae uitvee nie.

Hurkacz is een van die mense wat deur Federer se suksesse betower en aangespoor is. Die 24-jarige was nog in die doeke toe die Switser sy Wimbledon-buiging gemaak het, en hy maak geen geheim van sy bewondering vir Federer nie.

“Om van die baan te stap en te besef ek het teen Roger gewen . . . Dis ’n droom wat waar geword het, veral op gras op Wimbledon,” het hy volgens die ATP-reeks gesê.

Die Pool het self verwys na sy vernedering teen Stricker aan die begin van die grasbaan-seisoen. Die verskil tussen toe en nou, sê hy, is eenvoudig selfvertroue.

“Ek het ’n lang ruk nie op gras gespeel nie, so voor daardie wedstryd (teen Stricker) het ek nie veel selfvertroue gehad nie. Hier het ek ’n paar wedstryde gewen (onder meer ’n vyfstel-marathon teen Medvedev) en momentum opgebou. Ek het baie geloof gehad voor (die stryd teen) Federer.”

Hurkacz sal wel weet hy kan geen tikkie van daardie geloof en momentum verloor voordat hy Vrydag vir sy eerste Slam-halfeind aantree nie. Die 25-jarige Italianer Matteo Berretini wag nou op hom nadat hy Felix Auger-Aliassime Woensdag stom gespeel het.

Die ander halfeindstryd sal wees tussen die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, en die opwindende Denis Shapovalov.

Die Serwiër het die toernooi binnegegaan as die oorweldigende gunsteling vir die titel en is dit nou selfs meer.

As dit gebeur, sal hy Federer en Nadal se totaal van 20 Grand Slam-titels ewenaar. Dit is ’n rekord waarvan Federer net nege maande gelede die alleen-eienaar was.

Meer oor:  Wimbledon  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.