Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
LGBT-groep verbreek bande met Navratilova

’n Amerikaanse groep wat hom vir die regte van lesbiese, gay, biseksuele en transgender (LGBT) sportlui beywer, het weens haar uitlatings oor transgender sportvroue sy bande met die tennislegende Martina Navratilova verbreek.

Martina Navratilova (regs) en haar vrou, Julia Lemigova, op hul troudag in 2015. Foto: Getty Images

Die wenner van 18 Grand Slam-titels is vandeesweek gekritiseer vir haar mening dat dit weens ’n fisieke voordeel “malligheid en ’n verneukery” is dat transgender vroue, wat as mans gebore is, in vrouesport meeding.

The Guardian berig dat dié gayregteaktivis transgender-atlete en hul ondersteuners die eerste keer ontstel het toe sy in Desember getwiet het: “Jy kan jouself nie sommer net as vrou verklaar en toegelaat word om teen vroue mee te ding nie.

“Daar moet sekere standaarde wees en om ’n penis te hê en as ’n vrou mee te ding, sal nie aan daardie standaarde voldoen nie.”

Navratilova het die naweek in ’n artikel vir die Britse The Sunday Times geskryf: “ ’n Man kan besluit om ’n vrou te wees, hormone drink indien nodig, en dalk ’n klein fortuin verdien, en dan sy besluit omkeer en terugkeer om babas te maak as hy sou wou.

“Dit is malligheid en ’n verneukery. Ek is bereid om ’n transgender vrou aan te spreek op watter manier sy ook al verkies, maar ek sou nie bereid wees om teen haar mee te ding nie. Dit sou nie regverdig wees nie.”

BBC.com berig Athlete Ally sê die uitlatings is transfobies en moedig wanvoorstellings aan. Die groep het bevestig dat hy Navratilova van sy adviserende raad verwyder en as ’n ambassadeur gepos het.

Transgender sportvroue het vandeesweek teruggekap.

Die transgender fietsryer Rachel McKinnon. Foto: Twitter / @rachelvmckinnon

Rachel McKinnon, wat verlede jaar die eerste transgender vrou geword het wat ’n fietsry-wêreldtitel verower het, het die uitlatings as “steurend, ontstellend en diep transfobies” beskryf.

Athlete Ally sê in sy verklaring Navratilova se menings is “transfobies, geskoei op ’n vals begrip van die wetenskap en inligting, en moedig gevaarlike opvattings aan wat transmense teiken.”

Navratilova is al lank ’n stoere gayregte-ondersteuner en het die wind van voor gekry toe sy in die 80’s uit die kas geklim het.

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het in 2016 riglyne ingestel wat atlete wat van vroulik na manlik transformeer, toelaat om sonder enige beperkings mee te ding.

Daar word egter van vroulike transgender-atlete wat as mans gebore is, vereis om hul testosteroonvlakke vir 12 maande onder ’n sekere perk te hou.

– Sportredaksie

Meer oor:  Tennis  |  Martina Navratilova  |  Lgbt  |  Gay  |  Transgender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.