Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Lloyd Harris haal 1ste ATP-eindstryd

Die belowende Kaapse tennisspeler Lloyd Harris het Vrydag die eerste keer die eindstryd van ’n ATP-toernooi gehaal deur die Amerikaner Tommy Paul in die Adelaide International te klop.

Lloyd Harris Vrydag in aksie teen Tommy Paul van die VSA. Foto: Getty Images

Harris neem as kwalifiseerder aan dié ATP250-toernooi deel.

Die toernooi se amptelike webblad berig die 22-jarige Suid-Afrikaner was met 6-4, 6-7(3), 6-3 baas. Paul, ook ’n kwalifiseerder, is 90ste op die wêreldranglys.

Harris sal Saterdag in die eindstryd teen die wenner van die kragmeting tussen die tweede gekeurde Rus Andrey Rublev en Felix Auger-Aliassime (3de gekeur) van Kanada te staan kom.

Harris, 91ste op die ranglys, het vandeesweek goeie seges behaal oor die Spanjaard Pablo Carreno Busta (30ste op ranglys), die Chileen Christian Garin (36ste op ranglys) en Laslo Djere (40ste op ranglys) van Serwië.

Harris het met sy 13 kishoue in die wedstryd nou altesaam 60 kishoue in vandeesweek se vier wedstryde gemoker.

Hy het verlede jaar vir die hoofloting van al vier Grand Slam-toernooie gekwalifiseer en sy eerste major-wedstryd in die Franse Ope gewen deur die Tsjeg Lukas Rosol met 6-1, 4-6, 2-6, 6-1, 6-2 te klop.

Waar alles tot dusver klopdisselboom vir Harris in Adelaide verloop, het sy geluk ’n bietjie gedraai toe die loting vir die Australiese Ope, wat Maandag begin, bekend gemaak is.

Harris sal in die eerste ronde teen die 14de gekeurde Diego Schwartzman van Argentinië te staan kom.

Nog ’n Suid-Afrikaner, Kevin Anderson, sal sy veldtog teen ’n kwalifiseerder begin.

– Sportredaksie

Meer oor:  Tennis  |  Lloyd Harris
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.