Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Lloyd laat Rafa se kop rol in Washington

Die Kapenaar Lloyd Harris het Vrydagoggend (SA tyd) een van die grootste seges van sy loopbaan behaal toe hy die Spaanse legende Rafael Nadal uitgeskakel het om die kwarteindronde van die Citi-Ope te haal.

Ek het hom! Lloyd Harris brul van plesier nadat hy Rafael Nadal Vrydag in Washington in drie stelle verslaan het. Foto: AP

Harris, die wêreld se nr. 50-speler, het met 6-4, 1-6, 6-4 oor Nadal geseëvier. Die 24-jarige het 16 kishoue geslaan en die meeste gemaak van die wisselvalligheid van die Spanjaard se afslane.

Die Citi-Ope, in Washington D.C., was Nadal se eerste toernooi in twee maande, nadat ’n beseerde linkervoet hom weke lank van die baan gehou het. Dat hy verroes is, was duidelik toe hy Woensdag drie ure en ’n valbylstryd in die derde stel nodig gehad het om die Amerikaner Jack Sock te oorkom.

Die uitslag van daardie stryd het sy probleme egter net tydelik toegepleister, met sy onvermoë om sake deurgaans met sy afslaan te dikteer ’n doodskoot teen die veglustige Harris.

“Dit was regtig spesiaal,” het Harris volgens die ATP-reeks oomblikke ná sy sege in die Amerikaanse hoofstad gesê. “Ek het al groot seges gehad en vanjaar al met Grand Slam-kampioene afgereken. Maar om iemand met 20 Grand Slam-titels voor ’n vol skare en in so ’n fantastiese atmosfeer te klop, is beslis iets baie spesiaal.

“Ek het ’n klomp goeie goed gedoen, met die beste daarvan dat ek in die oomblik kon bly en ’n hoë standaard kon handhaaf. Dit was nie maklik daar buite nie, dit was ’n baie fisieke stryd, maar ek is in die wolke met hoe dinge afgeloop het.”

Rafael Nadal se afslane het hom in die steek gelaat op een van sy moeiliker dae op kantoor. Foto: AP

Die wedstryd het 2 uur en 11 minute geduur, en Harris se wen/verloorrekord teen top-tien-spelers verbeter tot 2-5.

Die vorige groot hond wie se tjank hy afgetrap het, is die Amerikaanse Ope-kampioen Dominic Thiem, wat in Maart in Dubai die knie voor hom moes buig.

Harris het in daardie merkwaardige Dubai-week ook met Kei Nishikori en Denis Shapovalov afgereken om die eerste kwalifiseerder in die toernooi se geskiedenis te word wat ’n eindstryd kon haal. Die Rus Aslan Karatsev het hom om die titel verslaan.

Dis juis Nishikori wat volgende op die jong Suid-Afrikaner wag. Die Japanner het Cameron Norrie met 3-6, 6-3, 6-3 geklop om die kwarteindronde te haal.

“Dit gaan ’n taai stryd wees, en die styl gaan heeltemal anders wees as wat ek vandag moes oorkom,” het Harris gesê. “Dis ’n nuwe uitdaging en een waarna ek uitsien.”

Meer oor:  Tennis  |  Lloyd Harris  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.