Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Lloyd maak stem dik by Roland Garros

Heupbesering? Watter heupbesering?

Die Kapenaar Lloyd Harris het Dinsdag sy plek in die tweede ronde van die Franse Ope bespreek toe hy die Aussie Alexei Popyrin in skoon stelle verslaan het.

Suid-Afrika se Lloyd Harris is veilig in die tweede ronde van die Franse Ope nadat hy ’n skoonstel-oorwinning oor Australië se Alexei Popyrin behaal het. Foto: Getty Images

Harris het met 6-4, 6-4, 7-6(7) geseëvier nadat hy Popyrin met 17 kishoue en altesaam 45 wenhoue gepeper het. Hy het ses van sy agt beskikbare breekpunte verspeel, maar die Aussie terselfdertyd geen kanse gegee om deur te breek nie.

Harris en Popyrin sou reeds Sondag swaarde gekruis het, maar die Suid-Afrikaner het vir uitstel gevra nadat hy met ’n heupbesering in die Franse hoofstad aangekom het. Hy het verlede week in die halfeindronde van ’n Challenger-toernooi in Italië seergekry en was in ’n stryd teen die horlosie om betyds te herstel.

Van sy skeet was daar Dinsdag geen teken nie. Hy was vuurwarm op sy eie afslaan en het ook nie gehuiwer om Popyrin by die net te gaan toets nie.

Suid-Afrika se ander verteenwoordiger in die mans-enkelspel, Kevin Anderson, se eerste wedstryd van die Franse Ope is ook geskeduleer vir Dinsdag.

Karolina Pliskova het ’n taai eerste stel te bowe gekom om die tweede ronde van die Franse Ope te haal. Foto: Reuters

• In die vrouekompetisie is die Tsjeg Karolina Pliskova sommer met die intrapslag herinner dat selfs die eerste ronde van ’n Grand Slam-toernooi dikwels ’n groot toets van jou veggees en vermoëns is.

Die tweede gekeurde het haar plek in die tweede ronde van die kleibaan-major bespreek – maar eers nadat sy hard moes werk om die moed van die Egiptiese kwalifiseerder Mayar Sherif te breek.

Pliskova was ná twee uur en 15 minute baas met 6-7(9), 6-2, 6-4.

Sherif het geskiedenis gemaak as die eerste Egiptiese vrou wat in die hoofloting van die Franse Ope speel, nadat sy in verlede week se kwalifiseringstoernooi nie ’n stel afgestaan het nie. Die 24-jarige het ooglopend oorgeloop van selfvertroue en geweier om haar deur Pliskova se reputasie te laat intimideer.

Die Tsjeg het aansienlik meer kanse gehad om die stel te wen, maar kon net nie die uitklophou lewer nie.

Sy het agt stelpunte verbrou voordat Sherif haar tweede stelpunt in die valbylstryd benut het.

Maar eerder as om haar deur die teleurstelling te laat wegspoel, het dit Pliskova eerder aangevuur. Sy was aansienlik meer dodelik in die tweede stel, waarin sy blitsig tot ’n voorsprong van 4-1 gestorm het.

Sherif het weer haar voete gevind in die derde stel en Pliskova weer al haar dae gegee. Die Tsjeg het uiteindelik ná ’n groot stryd in die sewende pot deurgebreek om die doodskoot te lewer.

UITSLAE

Meer oor:  Parys  |  Roland Garros  |  Tennis  |  Lloyd Harris  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.