Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Lloyd se Wimbledon-aptyt vergroot

Dit is nie sommer enigeen wat sy eerste wedstryd nóg op Wimbledon op die hoofbaan speel nie. En nog minder wat dan speel teen die man wat omtrent die plek besit.

Dit het wel in 2019 met die Suid-Afrikaner Lloyd Harris gebeur toe hy sy Wimbledon-debuut in die eerste ronde teen die agtmalige kampioen, Roger Federer, gemaak het.

Lloyd HarrisFoto: Gallo Images

Harris, toe 22 jaar oud, het soos verwag die knie gebuig voor Meneer Wimbledon, maar nie voordat hy die tenniswêreld regop laat sit het deur die eerste stel met 6-3 te wen nie.

Hy is uiteindelik met 3-6, 6-1, 6-2, 6-2 geklop, maar het gewys hy word nie sommer oorweldig nie en dat hy een van die blink tennisdiamante van die toekoms is.

Selfs Federer was ná daardie wedstryd vol lof vir die Suid-Afrikaner. Hy het hom geprys vir sy goeie afslaanwerk en die uitstekende terughoue waarmee hy sy veel meer geroemde teenstander in die eerste stel onder druk gehou het.

Heeltemal verstaanbaar was Harris se eerste happie van Wimbledon só lekker dat hy ’n behoorlike aptyt vir hierdie ikoniese toernooi ontwikkel het. Nou moet hy egter daarmee vrede maak dat sy Wimbledon-honger nie vanjaar gestil sal word nie.

Harris het in ’n verklaring deur Tennis Suid-Afrika (TSA) sy hartseer en spyt daaroor uitgespreek.

“Dit is baie hartseer nuus dat Wimbledon gekanselleer moes word, sowel as die hele grasbaan-seisoen, maar dit is oor dinge buite ons beheer en ons moet na die groter prentjie kyk. Dit is veel belangriker dat die wêreld veilig bly en dat almal tuis is,” sê Harris, nou nommer 98 op die wêreldranglys en Suid-Afrika se voorste speler.

“Hierdie is nie sommer net jou normale krisis nie. Dit is veel ernstiger. Ek pleit by almal om tuis te bly saam met jou gesin.

“Wimbledon is uiteraard ’n baie spesiale toernooi en ek het baie goeie herinneringe aan daardie eerste wedstryd teen Roger Federer op die hoofbaan. Dit was ’n ervaring wat ek met soveel van my geliefdes kon deel.

“Ek sou baie graag vanjaar weer daar wou wees. Ek glo die grasbane pas my spel en ek gaan dit gewis mis om die volgende hoofstuk te skryf. Dit was wonderlik om dit te kon ervaar en jy smag na meer.

“Ons sal egter wel weer eendag terug wees en dan kan die ondersteuners weer hul gunsteling-spelers volg. Ek werk hard in hierdie aftydperk en sal reg wees wanneer ek weer op die baan kan stap,” sê hy.

Meer oor:  Wimbledon  |  Koronavirus  |  Tennis  |  Lloyd Harris  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.