Die Amerikaanse tennisspeler en finalis by 2017 se VSA-Ope, Madison Keys, het positief getoets vir Covid-19, kort voordat die Australiese Ope begin.

Madison Keys Foto: Getty Images
Keys, wat tans 16de op die wêreldranglys is, sinspeel in haar verklaring daarop dat sy nie die toernooi in Melbourne, wat op 8 Februarie begin, sal kan bywoon nie.
Sy was geskeduleer om na Australië te vlieg en daar 14 dae in kwarantyn deur te bring voor die afslaan van die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar.
“Ek is uiters teleurgesteld om nie in die komende paar weke te kan speel nie nadat ek hard geoefen het tydens die buiteseisoense tydperk en weet dat Tennis Australië soveel gedoen het om hierdie geleenthede te laat plaasvind,” het die 25-jarige luidens ’n verklaring op Twitter gesê.
“Ek selfisoleer by die huis en sal aanhou om al die nodige gesondheidsvoorsorg te volg. Ek sien uit daarna om volgende maand weer te kan speel.”
Keys, wat net vyf plekke agter haar landgenoot Serena Williams op die wêreldranglys is, het vyf enkelspel-titels agter haar naam.
Sy het in 2015 in die halfeindstryd van die Australiese Ope teen Williams vasgeval.
Nuus oor haar positiewe toets vir die Covid-19-siekte volg kort nadat Andy Murray, die voormalige voorste speler in die wêreld, ook vroeër die week positief getoets is, met sy verskyning by die Australiese Ope wat ook nou onwaarskynlik is. – Reuters