Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Majorka se matador neem wraak

Rafael Nadal van Spanje het op koers gebly vir sy tiende titel by die Italiaanse Ope nadat hy Vrydag wraak geneem het teen Alexander Zverev deur die Duitser in hul kwarteindstryd met 6-3, 6-4 te verslaan.

Dit was nadat Zverev hul laaste drie kragmetings gewen het, wat verlede week se kwarteindstryd in Madrid ingesluit het.

Rafael Nadal gee uiting aan sy emosies nadat hy wraak geneem het teen Alexander Zverev, wat hul vorige drie kragmetings gewen het. Foto: Getty Images

Die tweede gekeurde Nadal het agterna gesê die toestande in Rome is nader aan normale kleitoestande as wat dit was in Madrid, waar dit Zverev met sy afslane gehelp het.

Die 34-jarige Nadal was in presies twee uur die wenner.

Die sesde gekeurde Zverev (24) sal homself skop nadat hy nie een van sy agt breekpunte in die tweede stel benut het nie.

Die matador van Majorka het net weer gewys hy is op sy gevaarlikste wanneer hy met die rug teen die muur is, soos in sy vorige wedstryd teen Denis Shapovalov, toe hy twee wedstrydpunte afgeweer het.

Nadal het die breekpunte teen hom Vrydag telkens ook met groot vasberadenheid afgeweer.

Nadal het in die eerste stel in ’n japtrap met 4-0 voorgeloop voordat ’n skynbaar tam Zverev sy oë uitgevee en ontdooi het om self ’n deurbraak te bewerkstellig.

Die Duitser, wenner in 2017 by Foro Italico, was toe in ’n verwoestende bui met ’n klompie kragtige wenners wat hy met presisie uitgevoer het.

Nadal het in die negende pot sleg geval toe sy voet op pad na die net – om by ’n valhoutjie uit te kom – vassteek. Zverev het in dié pot ’n breekpunt gehad, maar Nadal het vasgebyt om dit te wen en die eerste stel te beklink.

Nadal het in die tweede stel se vyfde pot sy neus weer voor gekry met die enigste deurbraak van die stel.

Dit was nadat hy aan die begin van die tweede stel ’n breekpunt verbeur het.

Zverev het op sy beurt in die vierde pot van die stel drie breekpunte gehad, maar kon dit nie benut nie.

Nadal het die volgende vyf punte ingepalm om sy afslaan te behou en voortgebou daarop toe hy in die daaropvolgende vyfde pot die voortou met 3-2 geneem het.

Zverev het in die sesde pot weer twee breekpunte gehad om dit gelykop te maak, maar kon dit wéér nie benut nie.

Hy het aan die einde, toe Nadal op 5-4 afgeslaan het vir die wedstryd, nog drie wedstrydpunte verbeur.

Nadal kom in die halfeindstryd te staan teen Reilly Opelka van Amerika, wat die Argentynse kwalifiseerder Federico Delbonis met 7-5 7-6(2) geklop het.

• Bykomende bron: atptour.com

Meer oor:  Rome  |  Alexander Zverev  |  Rafael Nadal  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.