Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Swiatek oorrompel Kenin

Pole het sy eerste Grand Slam-enkelspelkampioen nadat Iga Swiatek Saterdag die Franse Ope-titel op merkwaardige wyse beklink het teen Sofia Kenin.

Pure vreugde! Iga Swiatek is die nuwe Franse Ope-kampioen. Foto: Getty Images

Die tiener, wat kykers deur die loop van die toernooi bekoor het met die manier waarop sy haarself gedra het teen meer ervare name, het die Amerikaner in skoon stelle geklop met 6-4 6-1 om geskiedenis te maak.

As die 19-jarige kampioen se senuwees vooraf gepla het, het sy geen teken daarvan gewys nie.

Swiatek het net agt minute benodig om tot ’n voorsprong van 3-0 in die eerste stel te jaag met Kenin wat stadig uit die blokke was.

Nadat Swiatek die Amerikaner in die tweede pot gebreek het, het die 21-jarige Kenin uiteindelik begin wakker skrik.

Sy het terug gebreek en sake op 3-3 gelykop gemaak, met Swiatek wat konsentrasie verloor het en daarmee saam ook haar akkuraatheid.

Swiatek, wat voor die eindronde nog nie ’n enkele stel verloor het nie, het koelkop gebly en die gety weer geswaai om die eerste stel te beklink met 13 wenhoue teenoor Kenin se ses.

Ofskoon Kenin eerste deurgebreek het in die tweede stel, kon sy steeds net nie haar ritme vind nie.

En ’n bobeenbesering wat sigbaar in die tweede stel gelol het, het sake verder bemoeilik.

Kenin het in die tweede stel die baan vir agt minute verlaat om te kyk of haar mediese span die spier kon uitsorteer, maar ná haar terugkeer het Swiatek net voortgegaan om haar van die een hoek van die baan na die ander te jaag.

Daar is talle ooreenkomste in die twee jongeling se spel, met albei wat die hele toernooi lank hul valhoue deeglik benut het.

Met die koelerige weer en vogtige toestande by die Franse Ope het dit albei spelers se valhoue toegelaat om nóg laer te hop en sake selfs uitdagender vir hul teenstanders te maak.

Saterdag se eindstryd was geen uitsondering wat betref dié aspek van albei se spel nie.

Swiatek het deurlopend op top-spin staatgemaak, ’n aspek wat een van haar sterkpunte in die voorafgaande wedstryde was, en iets waarmee Kenin duidelik gesukkel het om by kers vas te hou. – Sportredaksie

Meer oor:  Iga Swiatek  |  Sofia Kenin  |  Roland Garros  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.