Dit is onwaar dat slegs manstennisspelers in aandwedstryde in vanjaar se Franse Ope op Roland Garros in Parys gaan speel, sê die toernooi se organiseerders.

Vroue sal soos die mans in aandwedstryde op Roland Garros in die Franse Ope speel. Foto: Getty Images
In 2020 is ’n dak oor die hoofbaan, die Court Phillipe-Chatrier, aangebring. Dit beteken dat daar, soos in die Australiese Ope en Amerikaanse Ope, ook in Parys in die aande gespeel kan word.
Die Franse nuusagentskap RMC Sport het egter Donderdag berig dat slegs manswedstryde in vanjaar se aandsessies gespeel sal word.
Dit is egter ontken en die organiseerders sê dat vroue en mans oor dieselfde kam geskeer sal word, insluitend wanneer dit by prysgeld kom.
“Twee vroue- en twee manswedstryde sal daagliks op Court Phillipe-Chatrier gespeel word. Daar sal dus drie dagwedstryde en een in die aand wees,” sê die organiseerders in ’n verklaring.
“Die vierde wedstryd, die wedstryd van die dag, wat van 21:00 gespeel sal word, kan ’n mans- of vrouewedstryd wees, afhangende van die orde van spel waarop daar deur die toernooi-skeidsregter besluit word.”
Vanjaar se Franse Ope begin op 30 Mei. – TeamTalk