Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Marathon-man op baan wil nou ure lank TV kyk

Tennis se nuwe “marathon-man” wil vir die volgende paar dae net één ding doen: in sy bed opgekrul lê en heeltyd TV kyk.

Die 23-jarige Rus Daniil Medvedev het Sondag die kroon op ’n ongelooflike, maar uitmergelende 20 dae gespan toe hy die eindstryd van die Cincinnati-meesterstoernooi teen David Goffin van België gewen het.

Moeg, maar gelukkig. Daniil Medvedev met die trofee wat hy verower het in die Cincinnati-meesterstoernooi. Dié eindstryd in dié toernooi was sy 18de wedstryd in 20 dae. Foto: Getty Images

Dié kragmeting was Medvedev se 18de wedstryd in dié tydperk, nadat hy in die voorafgaande twee weke ook die eindstryde van die Washington Ope en Rogersbeker-toernooi in Montreal gehaal het.

In daardie kragmetings het hy onderskeidelik teen Nick Kyrgios en Rafa Nadal verloor.

In Cincinnati het hy egter bomenslike krag en energie gevind om nie net met Goffin af te reken nie (7-6, 6-4), maar ook in die halfeindronde die wêreld se nr. 1-speler, Novak Djokovic, in drie stelle te klop, nadat hy die eerste stel verloor het.

“Dit sou nie lekker gewees het as ek drie opeenvolgende eindstryde verloor het nie, so ek is geweldig verlig en verheug dat ek dié keer gewen het,” het Medvedev aan ESPN gesê.

Volgens dié Rus het hy diep in die tweede stel geweldige krampe in sy bene begin ervaar – die nagevolg van soveel wedstryde in so ’n kort tydperk.

Hy sê hy het geweet as hy nie vinnig die wedstryd beklink nie, sou hy in die moeilikheid wees.

Hy het met ’n klompie kishoue so gemaak en kon sodoende sy eerste Meesters-1000-titel verower.

Volgens Goffin is ’n wedstryd teen Medvedev om soos teen ’n muur te spel, want elke bal word teruggeslaan. “Hy was die afgelope drie weke ongelooflik stewig. Hy maak bitter min foute en is bestendig. Voeg daarby die feit dat hy nou selfvertroue het en dis duidelik waarom spelers nou teen hom begin sukkel,” het Goffin gesê.

Toe die oudspeler en TV-kommentator Brad Gilbert vir Medvedev gevra het hoe hy binne ’n week gaan herstel vir die Amerikaanse Ope, het hy geskerts: “Ek moet eenvoudig net in die bed lê en vir 24 uur lank ’n dag TV kyk. Hopelik sal ek uitgerus wees by die Amerikaanse Ope.”

Medvedev het danksy sy oorwinning in Cincinnati tot die vyfde plek op die wêreldranglys opgeskuif en sal ’n speler wees om dop te hou by Flushing Meadows, waar die Amerikaanse Ope volgende Maandag begin. – Reuters, atptour.com, Sportredaksie

Meer oor:  David Goffin  |  Tennis  |  Daniil Medvedev  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.