Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Maria Sharapova groet tennis
Maria Sharapova het in Januarie haar terugkeer in die Australiese Ope gemaak, maar in die eerste ronde teen Donna Vekic verloor. Dit was die laaste Grand Slam- en beroepswedstryd van haar loopbaan. Foto: Getty Images

Die vyfmalige Grand Slam-tenniskampioen Maria Sharapova het haar uittrede Woensdag bekend gemaak in ’n rubriek wat sy vir Vogue en Vanity Fair geskryf het.

Die Rus groet die spel op 32-jarige ouderdom. Sy het haar laaste Grand Slam-titel in 2014 gewen toe sy die Franse Ope-kroon vir die tweede keer gewen het.

Haar laaste verskyning op die baan was in Januarie se Australiese Ope, toe sy in die eerste ronde teen Donna Vekic vasgeval het.

Sharapova skryf “sy sê totsiens” aan tennis.

Ek het my lewe vir tennis gegee en tennis het my ’n lewe gegee.
Maria Sharapova

“Ek het my lewe vir tennis gegee en tennis het my ’n lewe gegee,” skryf sy.

“Ek sal dit elke dag mis. Ek sal die oefensessies en die daaglikse roetine mis: douvoordag opstaan, eers my linkertekkie se veter vasmaak, dan die regter-een en die baan se hek toemaak voordat ek die eerste balle van die dag begin slaan.

“Ek sal my span en my afrigters mis.

Ek sal die oomblikke mis toe ek op die oefenbaan se bankie langs my pa gesit het.
Maria Sharapova

“Ek sal die oomblikke mis toe ek op die oefenbaan se bankie langs my pa gesit het.

“Die handdrukke – wen of verloor – en die spelers wat my aangespoor het om my beste te lewer – selfs al het hulle dit dalk nie geweet nie.”

Sharapova se uittrede is waarskynlik verhaas deur chroniese skouerbeserings. Sy het verlede jaar net in agt toernooie gespeel en die voormalige nr.1-speler het tot die 373ste plek op die ranglys teruggesak.

Sy was vir jare die liefling van tennis en sy was lank die vrou in tennis wat die beste betaal is.

Haar beeld het ’n knou gekry toe sy vroeg in 2016 positief vir die middel meldonium getoets is.

Sy is vir twee jaar geskors, wat ná ’n appèl tot 15 maande verminder is. Sy het haar terugkeer in April 2017 gemaak, maar gesukkel om weer die hoogste vlak te bereik.

Maria Sharapova en Serena Williams was deur die jare in baie titaniese kragmetings gewikkel.Foto: Getty Images
Maria Sharapova nadat sy die Wimbledon-titel as tiener in 2004 verower het. Foto: Getty Images

Sy sal nietemin beskou word as een van die grootstes van haar era – net Serena en Venus Williams onder die huidige spelers het meer Grand Slam-titels gewen.

Sharapova het ’n wêreldster geword toe sy in 2004 as 17-jarige Wimbledon gewen het. Sy het in 2006 die Amerikaanse Ope gewen en in 2008 die Australiese Ope. Sy was in 2012 en 2014 die Franse Ope-kampioen op Roland Garros in Parys.

Sharapova het sedert 1994 Amerikaanse burgerskap.

Business Insider beraam haar loopbaanverdienste op sowat $38 miljoen. Sy het egter net soveel, indien nie meer nie, met borgskappe verdien. – CNN, TeamTalk

Sharapova se grootste oomblikke op die baan:

 

Meer oor:  Maria Sharapova  |  Rusland  |  Uittrede  |  Tennis  |  Wta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.