Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Navratilova spoel mond uit oor Serena

Martina Navratilova meen Serena Williams se woede-uitbarsting in die eindstryd van die Amerikaanse Ope was verkeerd, al stem sy saam oor die bestaan van dubbele standaarde.

Martina Navratilova, wat 18 Grand Slam-titels in haar loopbaan gewen het, glo Williams het verkeerd opgetree. Foto: Getty Images

Navratilova (61), wenner van 18 Grand Slam-titels, skryf in ’n rubriek in The New York Times Williams moet hoër standaarde daarstel.

Williams het die skeidsregter Carlos Ramos as ’n “leuenaar” en ’n “dief” uitgekryt in haar nederlaag Saterdag teen die Japannees Naomi Osaka.

“Ons kan onsself nie meet aan wat ons dink ons ook mee kan wegkom nie,” sê die Tsjeggies gebore Amerikaner.

“Inderdaad, hierdie is die tipe gedrag wat niemand op die baan behoort te vertoon nie.”

Williams, wie se veldtog om haar 24ste Grand Slam-titel te verower deur Osaka in die wiele gery is, sê sy is gestraf oor iets wat sy gesê het terwyl mans al veel erger dinge kwytgeraak het sonder om ’n soortgelyke straf te kry.

“Serena Williams het ’n deel daarvan reg. Daar is beslis dubbele standaarde vir vroue wanneer dit kom by die straf vir swak gedrag – en nie net in tennis nie,” sê Navratilova.

“Maar deur haar protes het sy ook ’n deel verkeerd gekry. Ek glo nie dit is ’n goeie idee om ’n standaard toe te pas van, ‘As mans daarmee kan wegkom, is vroue veronderstel om ook dit te kan doen’ nie.

“Ek dink eerder ons moet onsself afvra wat is die regte manier om op te tree om ons sport te eer en ons teenstander te respekteer.”

Serena Williams en Carlos Ramos is in ’n woordewisseling betrokke tydens Saterdag se Amerikaanse Ope-eindstryd. Foto: Getty Images

Ramos het Williams aanvanklik gewaarsku vir ’n afrigtingsoortreding en met ’n punt gestraf nadat sy haar raket stukkend geslaan het.

Die Amerikaner het daarna heftig teenoor die skeidsregter uitgevaar en is uiteindelik met ’n pot gestraf.

Williams het die oortredings deurlopend gedurende die wedstryd bevraagteken.

“Ramos het geen ander keuse gehad as om Williams met ’n punt te straf nie,” sê Navratilova.

Naomi Osaka het Saterdag haar eerste Grand Slam-titel beklink. Foto: Getty Images

“Dit was toe dat sy regtig die kluts kwytgeraak het. Sy en Ramos het basies verby mekaar gepraat. Sy het daarop aangedring sy is nie ’n verneuker nie – heeltemal geloofwaardig, maar nie die punt nie – terwyl hy ’n beslissing gemaak het oor iets wat hy op daardie tydstip baie min willekeur oor gehad het.

“Dit is moeilik om te bepaal of Williams daarmee sou wegkom om die skeidsregter ’n dief te noem indien sy ’n man was. Maar om daarop te fokus is om die punt mis te kyk.

“Tog, as die mans inderdaad oor ’n ander kam geskeer word vir dieselfde oortredings, moet dit deeglik bekyk en reggestel word.”

* Intussen sê die Internasionale Tennisfederasie (ITF) hy ondersteun Ramos.

Williams het geweier om ná die wedstryd sy hand te skud en het hom van seksisme beskuldig.

Die Amerikaanse Tennisvereniging het haar met $17 000 (sowat R259 000) vir haar uitbarsting beboet.

“Carlos Ramos is een van die mees ervare en gerespekteerde skeidsregters in tennis. Mnr. Ramos se beslissings was ingevolge die reëls ter sake en is opnuut bevestig deur die Amerikaanse Ope se besluit om Serena Williams vir die drie oortredings te beboet,” sê die ITF in ’n verklaring.

“Dit is verstaanbaar dat hierdie hoëprofiel-, betreurenswaardige voorval debat ontlok. Maar terselfdertyd is dit belangrik om te onthou mnr. Ramos het sy pligte as skeidsregter uitgevoer volgens die reëlboek en het te alle tye professioneel en met integriteit opgetree.”

Wat dink jy van Serena Williams se optrede? Klik hier en stem in ons peiling.

– Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Itf  |  Carlos Ramos  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Martina Navratilova  |  Wta  |  Naomi Osaka  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.