Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Matteo die laaste hekkie vir Novak
Matteo Berrettini jil van vreugde ná sy triomf in sy Wimbledon-halfeindstryd teen Hubert Hurkacz. Die Italianer sal Sondag vir die eerste keer ooit in ’n Grand Slam-eindstryd speel. Foto: Getty Images

Die Wimbledon-hoofbaan is Vrydagmiddag vergas op luidkeelse krete van ‘Si!’ en ‘Forza!’ – alles geuiter in uitbundigheid terwyl die nuwe gesig van Italiaanse tennis maalvleis van ’n Poolse leeutemmer gemaak het.

Die 25-jarige Matteo Berrettini het Herbert Hurkacz tot sleepvoete en hangskouers gereduseer in hul Wimbledon-halfeindstryd, wat hy met 6-3, 6-0, 6-7(3), 6-4 gewen het.

Daar het ’n yslike 60 wenhoue van sy raket gevloei, teenoor net 18 ongedwonge foute.

Die groot Italianer (amptelik die swaarste speler in die top-20 op die wêreldranglys, en ’n rankende 6 voet 5 in sy sokkies) spog met ’n afslaan wat vrees by enigiemand kan inboesem, en het Vrydag net nege punte op sy eie eerste afslaan verloor (uit 65).

Maar tog was dit nie sy gevaarlikste wapen terwyl hy Vrydag tot die eerste Grand Slam-eindstryd van sy loopbaan deurgedring het nie.

Dit was eerder die manier waarop Berrettini vir Hurkacz rondgejaag het op die Pool se afslaan, wat die trant van dié wedstryd bepaal het. Berrettini het 40% van die punte in Hurkacz se afslaanpotte gewen en ses keer deurgebreek. Oor ’n 50 minuut-periode (van halfpad deur die eerste stel tot vroeg in die derde) het hy elf agtereenvolgende potte gewen en is hy nooit op sy eie afslaan bedreig nie.

Dat Hurkacz sake in die derde stel sodanig kon omdraai dat hy dit kon wen, verdien groot lof, maar selfs toe was die Pool net ’n skadu van die speler wat Roger Federer Woensdag in skoon stelle uitgestof het. Sy pendulum het net op twee emosies gaan stilstaan: of bewerig of dikmond. Teen ’n man met Berrettini se selfgeloof en krag sou dit nooit deug nie – en toe die Italianer die orde van die stryd in die vierde stel begin herstel, het Hurkacz geen teenargument gehad nie.

Nog ’n dag, nog ’n sege . . . Novak Djokovic het Vrydag in skoon stelle tot sy sewende Wimbledon-eindstryd deurgedring. Foto: Reuters

Berrettini het agterna geen geheim gemaak van sy vreugde oor sy sukses nie, en in Italië sou ’n paar mense waarskynlik in die strate gedans het. Dié land het 144 jaar gewag om een van hul eie in Wimbledon se mans-eindstryd te sien, en sal dit nou Sondag sien as ’n voorgereg vir hul Euro2020-sokkereindstryd teen Engeland.

“Ek het ’n paar uur nodig om te verstaan wat gebeur het,” het Berrettini ná die wedstryd in sy TV-onderhoud gesê. “Ek dink nie ek het ooit hiervan gedroom nie, want dit was te ’n groot droom. Hierdie is, tennisgewys, die beste dag van my lewe. Ek is so trots om die vlag hier te dra.”

Of Berrettini Sondag ’n ewe groot dag sal hê, sal net die tyd waarskynlik leer. Hy sal die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, te bowe moet kom om sy naam op die Wimbledon-trofee te kry – en enigiemand wat enigiets van tennis weet, besef hoe ’n enorme uitdaging dit is.

Djokovic het die reg verwerf om die hoofbaan vir sy sewende Wimbledon-eindstryd te betree toe hy die jong Denis Shapovalov Vrydagaand met 7-6(3), 7-5, 7-5 verslaan het.

Soos die telling aandui het die 22-jarige Kanadees Djokovic baie hard laat werk, maar hy het eenvoudig nie genoeg staal tussen die ore gehad om sy meer geroemde teenstander ooit in groot moeilikheid te dompel nie.

Die verskil tussen die duo was hul vertonings op die groot punte. Die druk daarvan het Djokovic telkens sy peil sien lig, en Shapovalov sien foute begaan.

Djokovic het Sondag ’n kans om groot geskiedenis te maak. Hy hoop eerstens om sy 20ste Grand Slam-titel te wen, en sodoende Roger Federer en Rafael Nadal se rekord te ewenaar. Dit sal ook sy sesde Wimbledon-kroon oplewer én sy kans om ’n kalenderjaar-Slam by die Amerikaanse Ope te verower lewend hou.

• Terwyl die vreugdevure hoog brand in Serwiese en Italiaanse tenniskringe, kan Suid-Afrikaners ook bors uitstoot oor een van hul eie.

Kgothatso Montjane, die land se voorste rolstoel-speler, het Vrydag nie een nie, maar twéé Wimbledon-eindstryde gehaal.

Kgothatso Montjane Vrydag onderweg na ’n halfeind-sege in die rolstoel-afdeling van Wimbledon. Sy sal die naweek in twee eindstryde speel. Foto: AP

Die 35-jarige Johannesburger (die vyfde gekeurde) het die eerste swart Suid-Afrikaner in ’n Wimbledon-eindstryd geword toe sy Japan se sesde gekeurde, Momoko Ohtani, in die halfeindronde met 7-6(3), 4-6, 6-4 verslaan het.

Dit het haar ’n tree nader gegee aan die glorie waarvan sy droom sedert sy in 2018 vir die eerste keer as promotorskeuse die groen gras van Wimbledon kon beleef.

Al speler wat nog tussen die Suid-Afrikaner en die kroon staan, is die Nederlandse eerste gekeurde, Diede de Groot. Maar dis onwaarskynlik dat Montjane se broek Saterdag sal bewe daaroor, want net enkele ure later het sy en haar dubbelsmaat, die Brit Lucy Shuker, hul halfeindstryd teen einste De Groot en haar landgenoot Aniek van Koot gewen.

De Groot en Van Koot was die eerste gekeurde paar, maar dit het Montjane-hulle (ongekeurd) nie gekeer nie. Hulle was met 6-3, 3-6, 7-5 baas.

Nou wag die tweede gekeurde paar, Yui Kamiji en Jordanne Whiley, in die eindstryd op hulle.

Meer oor:  Wimbledon  |  Novak Djokovic  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.