Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
McEnroe meen Nadal-hulle se tyd is verby

Die landskap aan die kruin van manstennis het vir langer as ’n dekade feitlik onveranderd gebly met Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic – en tot ’n mindere mate Andy Murray en Stan Wawrinka – wat die kitaar geslaan het.

Novak Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer deel ’n ligte oomblik op ’n ATP-geleentheid in Augustus 2013 in New York. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse legende John McEnroe glo egter verandering is aan die kom. ’n String jong kanonne, gelei deur die Duitser Alexander Zverev, sal na verwagting van Maandag af hul langverwagte stempel op die Australiese Ope afdruk.

“Ek dink vanjaar is die jaar wat jy een van hierdie jongelinge ’n deurbraak sal sien maak,” sê McEnroe, wenner van sewe Grand Slam-titels.

Hoewel hulle almal die afgelope klompie jare op verskillende tye afgeskryf is as oor die muur, het Federer, Nadal en Djokovic – almal in hul 30’s – al vier Grand Slam-titels in 2018 tussen hulle verower.

Alexander Zverev van Duitsland. Foto: Getty Images

Djokovic se 14de major-titel op verlede jaar se Amerikaanse Ope het beteken hy, Nadal (17) en Federer (20) het tussen hulle 51 van die 62 Slams sedert 2003 se Wimbledon beklink.

Voeg die Brit Murray en Switser Wawrinka (drie elk) se suksesse daarby en daar bly nie veel oor vir die res nie.

Marin Cilic van Kroasië het die Amerikaanse Ope in 2014 gewen en die beseerde Juan Martin del Potro het in 2009 in New York geseëvier, terwyl Marat Safin (Australië, 2005) en Gaston Gaudio (Frankryk, 2004) die enigste ander major-wenners in daardie tydperk is.

Die 21-jarige Zverev, vierde op die wêreldranglys ná sy sege op die ATP-jaareindtoernooi in November, is die speler wat die meeste kenners verwag om opgang in Melbourne te maak.

Dan is daar die Griek Stefanos Tsitsipas (15de), die Russiese duo Karen Khachanov (11de) en Daniil Medvedev (16de), die Kroaat Borna Coric (12de) en Kanada se Denis Shapovalov (27ste). Hulle is almal 22 jaar oud of jonger.

“Die deur is oop. As jy na die ranglys kyk, is daar baie spelers wat in ’n posisie is om ’n groot deurbraak te maak,” sê McEnroe.

“Ek glo ’n nuwe geslag gaan vanjaar oorneem. Zverev, of een van die ander soos Khachanov of Tsitsipas, gaan iets noemenswaardig vermag.”

Maar McEnroe besef dit sal dwaas wees om Djokovic, Federer of Nadal se wenkans summier te verwerp en meen boonop die spel is deesdae so fisiek, dit is moeilik vir jongelinge om sewe beste-van-vyf-stel-kragmetings in ’n Grand Slam-toernooi oor twee weke te oorleef.

Die Griek Stefanos Tsitsipas. Foto: Getty Images

“Djokovic geniet groot sukses in Australië, hy het die titel reeds ses keer verower en met die wyse waarop hy 2018 afgesluit het, is dit moeilik om te sê dit gaan nie hy wees nie,” sê McEnroe.

“Federer is in ’n posisie om goed te vaar. Dit is moeilik om ’n wenner te kies.

“Die spel is deesdae baie meer fisiek en die bal word harder geslaan. Dit is maar net moeilik vir ’n jong speler om vir sewe kragmetings op ’n streep daarmee mee te ding.

“Dit neem tyd om nie net jou spel te ontwikkel nie, maar ook jou liggaam.

“Ek dink Zverev beskik oor die beste ondersteuningspan, hy moes al meer druksituasies hanteer in vergelyking met die ander jong spelers.

“As hy die volgende trappie kan neem, sal hy ’n major-titel kan wen, maar dit werk nie altyd so nie.”

Die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar begin Maandag in Melbourne.

– Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.