Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Medvedev wen; Thiem 'nie in Groot 3 se klas'

Daniil Medvedev is nou voor in die koor om by tennis se “Groot Drie” oor te neem nadat hy Sondag die grootste titel van sy loopbaan verower het.

Dié lenige Rus het ’n agterstand uitgewis om Dominic Thiem van Oostenryk in die eindstryd van Londen se laaste ATP-jaareindtoernooi met 4-6, 7-6(2), 6-4 te klop.

Daniil Medvedev is in sy noppies met sy spog-titel. Foto: Getty Images

Thiem was op koers om die eerste Oostenryker te word om dié titel te wen nadat hy ook onlangs in die Amerikaanse Ope geseëvier het, maar die onmeedoënde Medvedev het die gety gedraai om ’n slag te slaan vir die nuwe generasie wat poog om die sport se hiërargie op sy kop te keer.

Medvedev het in twee uur en 42 minute geseëvier om ’n einde te bring aan 12 onvergeetlike jare in die O2-arena voordat Turin in Italië oorneem as gasheer vir die toernooi.

Dit is gepas dat die Londen-era eindig soos wat dit begin het met ’n Russiese wenner nadat Nikolay Davydenko die titel in 2009 beklink het.

Medvedev het slegs die vierde speler in ATP-geskiedenis geword om die wêreld se topdrie op dieselfde toernooi te klop.

Hy sluit hom aan by David Nalbandian (Madrid 2007), Novak Djokovic (Montreal 2007) en Boris Becker (Stockholm 1994).

“Dit is ongelooflik,” sê Medvedev, wat $1,56 miljoen as ’n onoorwonne kampioen verdien het.

“Ek het Novak (Djokovic) geklop (in die groep), Rafa (Nadal) in die halfeind en Dominic, die beste spelers tans in tennis. Dit wys waartoe ek in staat is.”

• Thiem het voor die eindstryd gesê hy is g’n deel van ’n nuwe “Fantastiese Vier” aan die bopunt van manstennis nie, al is hy nou net die tweede speler nóg wat vyf keer met Roger Federer, Nadal én Djokovic kon afreken.

Thiem het Saterdag die vyfde oorwinning van sy loopbaan oor Djokovic behaal.

Dominic Thiem Saterdag op pad na die vyfde oorwinning van sy loopbaan oor die Serwiër Novak Djokovic. Foto: Reuters

Hoewel hy steeds meer wedstryde as dit teen Djokovic verloor het (7), was dit Saterdag duidelik dat hy nie hoef terug te staan vir die wêreld se voorste speler nie.

Maar Thiem (nr. 3 op die wêreldranglys) sê gou hy is nog ver agter die dinamiese drietal van Nadal, Federer en Djokovic, wat tussen hulle 57 Grand Slam-titels het.

“Nee, ek is nog so ver weg (van wat hulle bereik het). Ek het een Slam en een Masters 1000-titel, en dis al,” het Thiem Saterdag gesê.

“Maar ek geniet dit om teen hulle te speel, hierdie lewende legendes.”

Thiem het die afgelope week ook met Nadal afgereken om sy wen-verloorrekord teen die Spanjaard na 6-9 te voer. Nadal se pad in die jaareindtoernooi het, soos Djokovic s’n, Saterdag geëindig toe hy in die ander halfeindstryd teen Medvedev vasgeval het.

Die enigste van die Groot Drie teen wie Thiem ’n positiewe rekord het, is Federer, oor wie hy in vyf van hul sewe kragmetings geseëvier het. Federer het in Januarie laas mededingende tennis gespeel.

“Dit is superspesiaal (om vyf oorwinnings oor elk van die Groot Drie te hê), en dit was spesiaal om (Saterdag) my 300ste toeroorwinning te behaal,” het Thiem gesê.

“Om hulle almal vyf keer te kon klop is iets ongelooflik, want vir my is dit ’n voorreg elke keer wat ek teen hulle speel. Ek beskou dit as ’n groot kans om te leer, en om hulle te verslaan is ’n goeie hupstoot vir my selfvertroue.”

Die enigste ander speler wat Federer, Nadal en Djokovic minstens vyf keer kon klop, is die Brit Andy Murray.

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Dominic Thiem  |  Roger Federer  |  Atp  |  Daniil Medvedev  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.