Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Meghan gaan Serena in eindstryd aanmoedig

Serena Williams sal Saterdag kan staatmaak op koninklike ondersteuning wanneer sy in die eindstryd van die Wimbledon-tennistoernooi teen Angelique Kerber te staan kom.

Serena Williams speel Saterdag in haar 10de Wimbledon-eindstryd. Foto: AP

Die nuwe hertogin van Sussex en ’n goeie vriendin van Williams, Meghan Markle, sal onder die toeskouers wees wanneer die Amerikaanse tennisster poog om haar agtste enkelspeltitel op die beroemde grasbane in Londen te verower.

Wanneer dit by “tennis-koninklikes” kom, is Williams egter ’n koningin. Sou sy Saterdagmiddag as die kampioen gekroon word, sal dit haar 24ste Grand Slam-titel wees en sal sy Margaret Court se rekord vir die meeste Grand Slam-enkelspeltitels ewenaar.

Toe Williams Donderdag oor dié reuse-mylpaal uitgevra is, het sy joernaliste verstom met haar antwoord. “Om die waarheid te sê, het ek vergeet daarvan.

“Dis waarskynlik ’n goeie ding, want ek het soveel druk op myself geplaas toe ek vroeër in my loopbaan probeer het om Chris Evert en Martina Navratilova se rekord van 18 Grand Slam-titels te ewenaar.

“Ek wil egter nie fokus op sekere getalle en myself sodoende beperk nie. Dis wat ek in die verlede gedoen het, ek het myself beperk.”

Waar Williams eendag in terme van Grand Slam-titels gaan eindig, is onseker, maar daar bestaan geen twyfel daaroor nie dat ’n Wimbledon-titel Saterdag een van die merkwaardigstes van haar loopbaan sal wees.

Die rede is dat sy 10 maande gelede erge komplikasies tydens die geboorte van haar dogter, Alexis Olympia, ervaar en by die dood omgedraai het.

Om só kort daarna die mees prestigeryke tennistitel ter wêreld te verower sal ’n sprokiesverhaal wees.

Meghan, die hertogin van Sussex, sal Saterdag die Wimbledon-eindstryd vir vroue bywoon. Foto: WireImage

Slaag die 36-jarige Williams daarin, sal sy ook die eerste ma word om Wimbledon te wen sedert Evonne Goolagong dit in 1980 vermag het.

Die 13 maande wat Williams buite aksie was voor en ná die bevalling, het beteken dat sy tans slegs die 181ste posisie op die wêreldranglys beklee.

Sou sy Wimbledon wen, sal dit beteken dat sy die kampioen word met die laagste wêreldranglys-posisie in die geskiedenis van die toernooi.

* Williams en Duitsland se Kerber het in die 2016-eindstryd ook kragte gemeet. Williams het toe met 7-5, 6-3 geseëvier.

Die 30-jarige Kerber (1,73 m, 68 kg) weeg fisiek goed op teen Williams (1,75 m, 70 kg) en het ook al een Grand Slam-eindstryd teen die Amerikaner gewen (die Australiese Ope in 2016).

Williams spog egter met ses seges in dié twee spelers se vorige agt kragmetings. – Reuters en Sportredaksie

Meer oor:  Wimbledon  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Meghan Markle  |  Angelique Kerber
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.