Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Melkbaarde speel soos veterane

Die Groot Vier kan maar uittree.

Denis Shapovalov (21) en Jannik Sinner (19) van Italië het Maandag in Melbourne gewys manstennis se toekoms is blink.

Denis Shapovalov rek en strek Maandag in sy marathonstryd in die eerste ronde teen Jannik Sinner. Foto: Reuters

Niemand het Maandag vir dié twee gesê hulle pak mekaar in die eerste ronde, en nie die eindstryd nie, van die Australiese Ope.

Die wedstryd het Dinsdag kort voor 01:00 Australiese tyd klaargemaak nadat nie een wou bes gee nie. Hulle het al hul vaardighede en talente uitgestal en gespeel asof daar geen druk was nie. Vyf uitmergelende stelle was nodig om ’n wenner te bepaal.

Eindelik ná 3 uur en 55 minute was dit die Kanadees Shapovalov, die 11de gekeurde, wat met sy tweede wedstrydpunt die oorwinning met 3-6, 6-3, 6-2, 4-6, 6-4 verseël het.

Dié epiese stryd was beslis ’n puik begin tot die Grand Slam-toernooi.

Met min voorbereiding voor die Aussie Ope, was Dominic Thiem vroeër Maandag verlig dat hy sy peil kon vind en sy veldtog op die regte noot begin het.

Die Oostenryker het Mikhail Kukushkin met 7-6(2), 6-2, 6-3 geklop.

Thiem, die Amerikaanse Ope-kampioen, het verlede week in die toernooi om die ATP-beker teen Matteo Berrettini van Italië verloor en net een stel teen Benoit Paire van gespeel voordat die Fransman hom aan hul wedstryd onttrek het.

Dominic Thiem teen Mikhail Kukushkin in aksie in Melbourne. Foto: AP

Thiem het nog ietwat verroes gelyk, met Kukushkin wat in die eerste stel twee keer op sy afslaan deurgebreek het.

Die derde gekeurde Oostenryker het egter ’n valbylpot afgedwing, dit oorheers en toe voortgegaan om die oorwinning te beklink.

“Ja, ek was senuagtig, want dit is ’n lang tyd sedert die laaste Slam en meer as drie weke sedert ons in Adelaide aangekom het,” sê Thiem.

Hy en van die ander topspelers het daar in kwarantyn deurgebring en aan ’n vertoontoernooi deelgeneem.

“As ek te veel dae ná mekaar oefen, begin ek slegter speel, pleks van beter.

“Ek weet nie hoe my spelpeil nou lyk nie. Ek het ook ’n moeilike teenstander gehad en is gelukkig hoe dit uitgedraai het.”

Thiem sal in die tweede ronde teen die Duitser Dominik Koepfer te staan kom.

Nog ’n speler wat min voorbereiding gehad het, is Suid-Afrika se Kevin Anderson.

Hy speel Dinsdag (omstreeks 10:00 SA tyd) vir die eerste keer teen Berrettini.

Soos verwag het Novak Djokovic, die eerste gekeurde en die verdedigende kampioen, min tyd verspeel om sy eerste oorwinning te behaal.

Hy moes tot die aand wag om die Fransman Jeremy Chardy met 6-3, 6-1, 6-2 te kon klop.

Alexander Zverev, die sesde gekeurde, was stadig uit die blokke en het vier stelle nodig gehad om Marcos Giron van Amerika met 6-7(8), 7-6(5), 6-3, 6-2 te klop.

“Die eerste ronde van ’n Slam is nooit maklik nie. Jy het nooit maklike teenstanders nie. Jy moet net speel en die wedstryde wen,” sê die Duitser.

Gael Monfils verlaat die baan in trane nadat hy teen sy oefenmaat Emil Ruusuvuori verloor het. Foto: Reuters

Gael Monfils het geen gunsies van sy oefenmaat, Emil Ruusuvuori, gekry nie.

Die Fransman en onbekende Emil Ruusuvuori van Finland het teen mekaar geoefen toe hulle in kwarantyn was.

Ruusuvuori het duidelik notas geneem, want hy het die tiende gekeurde in vyf stelle geskok met 3-6, 6-4, 7-5, 3-6, 6-3.

’n Emosionele Monfils was agterna in trane en het gesê hy is “vasgevang in ’n nagmerrie”.

Dit was Monfils (34) se sewe agtereenvolgende nederlaag en net die tweede keer dat hy in Melbourne in die eerste ronde verloor.

“Ek het geen selfvertroue nie, ek kan nie afslaan nie en ek maak foute. Ek voel nie goed nie en dit wys,” sê Monfils.

Ook Kei Nishikori (Japan) sukkel met sy spelpeil. Pablo Carreno-Busta, 15de gekeurde van Spanje, het die Japannees met 7-5, 7-6(4), 6-2 geklop.

Nishikori gaan die laaste paar jaar gebuk onder beserings en het in Augustus ook die koronavirus opgedoen.

Die Bulgaar Grigor Dimitrov (18de) het 19 kishoue en 34 wenhoue gemoker in sy oorwinning van 6-4, 6-2, 7-6(5) oor Marin Cilic van Kroasië.

Dit was toe ook nie vir Nick Kyrgios nodig om sy raket te gooi nie, want hy het die Portugese kwalifiseerder Frederico Ferreira Silva met 6-4, 6-4, 6-4 geklop.

Dinsdag se hoogtepunte: Lloyd Harris (SA) t. Mikael Torpegaard (Dene); Laslo Djere (Serw) t. Rafael Nadal (Sp, 2); Stefanos Tsitsipas (Griek, 5) t. Giles Simon (Fr); Vasek Pospisil (Kan) t. Daniil Medvedev (Rus, 4); Kevin Anderson (SA) t. Matteo Berrettini (It); Andrey Rublev (Rus, 7) t. Yannick Hanfmann (Duits); Tennys Sandgren (VSA) t. Alex de Minaur (Aus, 21).

Bykomende bronne: Reuters, atp.com

UITSLAE

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Dominic Thiem  |  Jannik Sinner  |  Denis Shapovalov
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.