Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
'Mense moet wakker word oor Novak'

Tennisaanhangers “moet wakker word vir die grootheid” van Novak Djokovic nadat hy Sondag sy 16de Grand Slam-titel beklink het, sê Boris Becker, die Serwiër se voormalige afrigter.

Boris Becker het Novak Djokovic van 2013 tot 2016 afgerig. Foto: Getty Images

Djokovic (32) het die All England Club-gunsteling Roger Federer in die langste eindstryd wat Wimbledon nóg gesien het, ná vyf epiese stelle om sy vyfde kroon verslaan. Die eindtelling, ná vier uur en 57 minute, was 7-6(5), 1-6, 7-6(4), 4-6, 13-12(3).

BBCSport berig Djokovic het gesukkel om die pro-Federer-toeskouers se guns te wen. Hulle het by tye hande geklap vir sy foute, terwyl hy ook op ’n kol in ’n spanningsvolle beslissende stel uitgejou is.

“Dit het hom aangespoor om in die vyfde stel te baklei,” sê Becker, wat Djokovic van 2013 tot 2016 gebrei het.

“Hy het effens opgewerk geraak en ’n paar toeskouers aangegluur, maar dit is hoe hy werk, dit is hoe hy klop.

“Daar kom ’n punt wanneer jy gefrustreerd raak, maar ek dink hy het homself goed gedra en was sielkundig goed voorberei.”

Federer (37) het sy visier op ’n negende Wimbledon-titel en 21ste Grand Slam-kroon gehad. Die Switser is die liefling van die hoofbaan en is deur die meerderheid van die 15 000 toeskouers aangemoedig. Dit was veral duidelik toe Djokovic uitgejou is toe hy die skeidsregter, Damian Steiner, nader om ’n Hawk-Eye-beslissing te bevraagteken.

“Federer is die beste van alle tye hier en het die reg verdien om al die liefde te ontvang, maar nogtans moet jy ’n bietjie meer respek aan ’n viermalige kampioen betoon,” sê Becker, wenner van drie Wimbledon-titels.

“Ek hoop volgende jaar, indien hulle weer teen mekaar sou speel, dat sake meer gelyk sal wees.

“Hy het hom by die Roger-en-Rafa-partytjie aangesluit en hulle partytjie bederf. Nou, met 16 major-oorwinnings, moet mense wakker word en Novak Djokovic se grootheid besef.”

Becker glo die wêreld se voorste speler sal nie rus voordat hy nie Federer en Nadal (18 Grand Slam-titels) verbygesteek het nie.

“Novak is nog nie heeltemal tevrede nie,” sê die Duitser.

“Hy is een van die bestes van alle tye, maar hy wil die beste van alle tye wees.

“Hy kan geweldig trots op sy 16 major-titels wees. As jy dit 15 jaar gelede vir hom gesê het, sou hy dit nie geglo het nie en tevrede met een of twee gewees het.”

Djokovic se oorwinning beteken hy het vier van die vorige vyf Grand Slam-titels verower en, ses jaar Federer se junior, kan hy nog ’n klompie daarby voeg indien hy fiks bly en sy spelpeil behou.

Sy najaging van Federer en Nadal is nog meer merkwaardig weens die feit dat hy sy eerste major in 2008 gewen het – toe Federer op 13 en Nadal op vyf was – en sy tweede eers drie jaar later bygevoeg het.

“Ek dink eerlikwaar hy kan hulle verbysteek, maar ek wil dit nie vir ’n feit sê nie,” sê Becker.

“Die mededinging duur voort en die ewige debat oor wie die meeste sukses gaan behaal, sal voortduur solank as wat al drie speel.

“Ek sien nie die einde van die pad vir enige van die drie nie. Ek glo hulle gaan almal nóg Grand Slam-titels wen.

“Novak se werketiek is 24/7 en hy het ná afloop van die wedstryd erken dat Federer – wat steeds op 37-jarige ouderdom Grand Slam-eindstryde haal – hom inspireer.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Wimbledon  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Boris Becker  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.