Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Minder prysgeld knaag aan Svitolina
Elina Svitolina in aksie gedurende die onlangse Katarse Ope.Foto: Getty Images

Die wêreld se nr. 5-vrouespeler, Elina Svitolina van Oekraïne, sê die drastiese verlaging van prysgeld in die WTA-reeks het wel haar motivering om te speel, aangetas, maar erken ook tennisspelers moet nou leer om hul verwagtinge ’n bietjie aan te pas.

Svitolina is eerste gekeur vir die week se Dubai-kampioenskap en sal saam met die voorste name in vrouetennis vir dié WTA 1000-toernooi aantree.

Dit word weens Covid-19-beperkings agter geslote deure aangebied en boonop is die totale pryspot na nagenoeg R28 miloen verlaag, teenoor verlede seisoen se R43 miljoen.

Die enkelspel-kampioen sal die keer R3,4 miljoen in haar sak steek, teenoor die R10,7 miljoen wat 12 maande gelede in die eindstryd op die spel was.

Die ’n vermindering van nagenoeg 68% aan prysgeld vir die enkelspelwenner.

Petra Kvitova

Die Tsjeggiër Petra Kvitova het Saterdag R1,05 miljoen ontvang nadat sy die Doha-toernooi gewen het. Dis nagenoeg 57% minder as die wenner twee jaar gelede.

Dié Abu Dhabi 500-toernooi, wat spelers weens die kansellasie van die Brisbane International kans gegee het om ’n ietsie te verdien, se totale pryspot was R8,7 miljoen, teenoor die R22 miljoen wat in die Australiese stad op die spel sou wees.

Dié verloop van sake sal na verwagting vir die komende paar maande voortgaan, met slegs die Grand Slams wat steeds die gebruiklike groot bedrae op die spel sal hê.

“Ek moes aansienlike aanpassings maak,” het Svitolina oor haar deelname in die woestynstad gesê.

“Daar kan nie nou meer so baie ondersteuningspersoneel saam met my reis nie. Ek moes my daaglikse roetine ook verander.

“Ons moet nou slimmer te werk gaan. Almal moet aanpas, want vir die afsienbare toekoms gaan die situasie met die drastiese verlaging (in prysgeld) nie verander nie,” het sy bygevoeg.

Ons was maar lekker bederf wat geld betref voor dit (die koronavirus) als kom beduiwel het.
Elina Svitolina

“Dis moeilik om die pil te sluk en ek moet erken dit het my motivering aangetas om in die (kleiner) toernooie te speel. Ons was maar lekker bederf wat geld betref voor dit (die koronavirus) als kom beduiwel het.”

Die 26-jarige, wat 15 WTA-titels agter haar naam het en spog met ’n totale prysgeld van nagenoeg R307 miljoen in haar loopbaan, het gesê die verwikkelinge sal haar nou mooi laat dink oor haar speelskedule.

“Dit krap maar in jou agterkop. Die motivering om in sommige van die kleiner toernooie te speel, is nie daar nie, want die prysgeld op die spel maak dit nie die moeite werd nie.

Aryna Sabalenka. Foto: Getty Images

“Enige toernooi put jou geestelik en fisiek uit, so jy sal voortaan mooi moet dink of jy al daardie harde werk wil insit as die wenner die helfte ontvang van wat voorheen op die spel was.”

Die Rus en derde gekeurde in Dubai, Aryna Sabalenka, het gesê sy voel nie self die knou wat die verlaging in prysgeld teweegbring nie. “Maar ek weet my bankbalans vat houe,” het sy geskerts.

Die 22-jarige sê wat sy wel mis, is die persoonlike interaksie met joernaliste by toernooie. “Hierdie virtuele nuuskonferensies en Zoom-onderhoude doen dit nie vir my nie. Ek wens net alles kan terugkeer na hoe dit was.”

Die Dubai-toernooi het Sondag begin en die eindstryd is vir 13 Maart geskeduleer. – Reuters

Meer oor:  Elina Svitolina  |  Oekraïne  |  Dubai  |  Tennis  |  Prysgeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.